Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 8:9-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. So het Y’hoshua hulle dan weggestuur en hulle het na die plek van die hinderlaag gegaan en gebly tussen Beit-El en `Ai, aan die westekant van `Ai, maar Y’hoshua het dié nag tussen die manskappe deurgebring.

10. Die oggend vroeg het Y’hoshua opgestaan, die manskappe aangetree en opgegaan saam met die oudstes van Yisra’el, voor die manskappe, na `Ai toe.

11. Toe het al die manskappe wat by hom was, opgegaan en nader gegaan en voor die stad aangekom en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van `Ai, met ’n vallei tussen hulle en `Ai.

12. Hy het omtrent vyf duisend man gevat en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Beit-El en `Ai, aan die westekant van die stad.

13. So het hulle die manskappe opgestel, die hele leër wat aan die noordekant van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad en Y’hoshua het daardie nag in die vallei deurgebring.

14. Dit het gebeur, toe die koning van `Ai dit sien, het die manne van die stad gou gemaak en vroeg opgestaan en uitgegaan om Yisra’el in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op ’n aangestelde plek voor die woestynvlakte. Hy het egter nie geweet dat daar agter die stad ’n hinderlaag teen hom lê nie.

15. Y’hoshua en die hele Yisra’el het voorgegee om verslaan te wees voor hulle en gevlug in die rigting van die wildernis.

16. Al die manskappe in die stad is bymekaar geroep om hulle te agtervolg en hulle het Y’hoshua agtervolg en is weggelok van die stad af.

17. Daar was nie ’n man oor in `Ai of Beit-El, wat nie agter Yisra’el aan gegaan het nie en hulle het die stad onbewaak laat staan en Yisra’el agtervolg.

18. Toe sê יהוה vir Y’hoshua: “Steek die spies wat in jou hand is, na `Ai toe uit, want Ek sal dit in jou hand gee.” Y’hoshua het die spies, wat in sy hand was, na die stad toe uitgesteek.

19. Die manne in die hinderlaag het gou van hulle plek af opgestaan en toe hy sy hand uitgesteek het, gehardloop, die stad ingegaan en dit oorgeneem en die stad gou aan die brand gesteek.

20. Toe die manne van `Ai omdraai, let op, het die rook van die stad in die lug opgetrek en hulle het geen plek gehad om heen te vlug nie, nie hierheen of daarheen nie, want die manskappe wat op die vlug was na die wildernis, het omgedraai teen die agtervolgers.

21. Toe Y’hoshua en die hele Yisra’el sien dat die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook van die stad af opstyg, het hulle omgedraai en die manne van `Ai verslaan.

22. Die ander het uit die stad gekom, hulle tegemoet sodat hulle tussen Yisra’el vasgevang was, sommige duskant en sommige anderkant en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle oor was wat oorleef of ontvlug het nie,

23. maar hulle het die koning van `Ai lewendig gevang en hom na Y’hoshua toe gebring.

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 8