Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 6:6-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Y’hoshua, die seun van Nun, het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Tel die verbondsark op en laat sewe priesters sewe ramshorings voor die ark van יהוה dra.”

7. Toe het hy aan die volk gesê: “Gaan vorentoe en stap rondom die stad; laat die gewapendes voor die ark van יהוה uit marsjeer.”

8. Dit het gebeur dat, toe Y’hoshua met die volk gepraat het, die sewe priesters, wat die sewe ramshorings voor יהוה gedra het, vorentoe gegaan en geblaas het op die horings en die ark van die verbond van יהוה het hulle gevolg.

9. Die gewapendes het voor die priesters wat op die horings geblaas het uitgegaan en die agterhoede het agter die ark aan gekom terwyl hulle gedurig op die horings geblaas het.

10. Y’hoshua het die volk egter beveel en gesê: “Julle mag nie uitskree of julle stem laat hoor nie en geen woord mag uit julle mond uitgaan nie tot op die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ dan moet julle skreeu met vreugde.”

11. So het hy die ark van יהוה om die stad gevat, een keer rondom; daarna het hulle in die kamp ingekom en die nag in die kamp deurgebring.

12. Y’hoshua het vroeg die oggend opgestaan en die priesters het die ark van יהוה opgetel.

13. Die sewe priesters wat die sewe ramshorings voor die ark van יהוה gedra het, het geloop en aanhoudend op die horings geblaas en die gewapendes het voor hulle geloop en die res van die menigte het agter die ark van יהוה aan gekom terwyl hulle voortgegaan het om op die horings te blaas.

14. So het hulle dan op die tweede dag een keer om die stad geloop en na die kamp teruggekeer. So het hulle vir ses dae lank gedoen.

15. Toe, op die sewende dag het hulle vroeg, met die breek van die dag, opgestaan en op dieselfde manier sewe maal om die stad geloop; net op dié dag het hulle sewe maal om die stad geloop.

16. Met die sewende keer, toe die priesters op die horings blaas, sê Y’hoshua vir die volk: “Skreeu van vreugde, want יהוה het die stad vir julle gegee!

17. Die stad en alles wat daarin is, sal toegewy wees, dit behoort aan יהוה; slegs Ragav, die hoer en almal wat by haar in die huis is, mag lewe omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur is, weggesteek het.

18. Maar wat julle betref, hou julleself weg van die dinge wat toegewy is sodat julle dit nie begeer en van die toegewyde goed vat en die kamp van Yisra’el ‘n vervloeking maak en moeilikheid daaroor bring nie.

19. Al die silwer, goud, koper en ystervoorwerpe is afgesonder tot יהוה: dit moet in die skatkamer van יהוה kom.”

20. Die volk het geskreeu van vreugde en die priesters het op die horings geblaas. Dit het so gebeur dat toe die volk die klank van die horing hoor, die volk met ’n harde skreeu geskree het van vreugde en die muur het platgeval sodat die mense in die stad in opgegaan het, elkeen reg vorentoe en hulle het die stad oorgeneem.

21. Hulle het alles in die stad volkome vernietig deur die swaard; beide man, sowel as vrou, jonk, sowel as oud, bees en skaap en donkie.

22. Aan die twee manne wat die land verken het, het Y’hoshua gesê: “Gaan in die huis van die hoer en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daar uit, soos julle vir haar gesweer het.”

23. Die jongmanne, wat spioene was, het ingegaan en Ragav met haar vader, haar moeder, haar broers en almal wat aan haar behoort, uitgebring; hulle het haar hele familie uitgebring en hulle buitekant die kamp van Yisra’el gesit.

24. Hulle het die stad met alles wat daarin was, met vuur verbrand; net die silwer, die goud, die koper en ystervoorwerpe het hulle in die skatkamer van die huis van יהוה gesit.

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 6