Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 37:9-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Toe sê Hy vir my: “Profeteer tot die asem, profeteer, seun van ’n mens en sê vir die asem: ‘So sê יהוה-God: “Kom vanuit die vier windstreke, o asem en blaas in hierdie dooies in sodat hulle lewendig kan word.”’”

10. Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het en die gees het in hulle ingekom en hulle het lewendig geword en op hulle voete gestaan; ’n uitermate groot leër!

11. Toe sê Hy vir my: “Seun van ’n mens, hierdie bene is die hele huis van Yisra’el; let op, hulle sê: ‘Ons bene is verdroog en ons verwagting het vergaan. Ons is volledig afgesny!’

12. Profeteer daarom en sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, My volk; Ek sal julle in die land van Yisra’el bring,

13. dan sal julle weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek julle grafte oopgemaak het en julle uit jul grafte laat opkom het, My volk!

14. Ek sal My Gees in julle plaas en julle sal lewe en Ek sal julle in jul eie land sit; dan sal julle weet dat Ek, יהוה, gepraat en dit gedoen het,” verklaar יהוה. ’”

15. Die woord van יהוה het weer tot my gekom en gesê:

16. “Jy, seun van ’n mens, vat vir jouself een stok en skryf daarop: ‘Vir Y’hudah en vir die seuns van Yisra’el, sy bondgenote;’ vat dan ’n ander stok en skryf daarop: ‘Vir Yosef, die stok van Efrayim en die hele huis van Yisra’el, sy bondgenote.’

17. Sit hulle vir jouself bymekaar, die een by die ander, in een stok sodat hulle een kan word in jou hand.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 37