Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 33:17-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Nogtans sê jou mede-burgers: ‘Die pad van יהוה is nie reg nie,’ wanneer dit hulle eie pad is wat nie reg is nie.

18. As die regverdige wegdraai van sy onpartydige opregtheid en onregverdigheid doen, dan sal hy daarin sterf.

19. As die bose egter wegdraai van sy boosheid en regverdigheid, onpartydige opregtheid doen, dan sal hy deur hulle lewe.

20. Nogtans sê julle: ‘Die pad van יהוה is nie reg nie.’ O huis van Yisra’el, Ek sal elkeen van julle oordeel volgens sy lewenswyse!”

21. In die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand op die vyfde van die maand, het die vlugtelinge uit Yerushalayim na my toe gekom en gesê: “Die stad is ingeneem!”Yeg 3:26,27

22. Die hand van יהוה was op my in die aand, voordat die vlugtelinge gekom het en Hy het my mond oopgemaak op die tyd dat hulle in die oggend na my toe gekom het. My mond is dus oopgemaak en ek was nie meer stom nie.

23. Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

24. “Seun van ’n mens, hulle wat in hierdie puinhope in die land van Yisra’el bly, sê: ‘Avraham was een, tog het hy die land besit; aan ons wat baie is, is dus die land as besitting gegee!’

25. Sê daarom vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Julle eet vleis met die bloed in en lig julle oë op na jul afgode terwyl julle bloed vergiet; moet julle dan die land besit?

26. Julle steun op jul swaard, julle doen verwerplikhede en elkeen van julle onteer die vrou van sy naaste; moet julle dan die land besit?’”

27. So moet jy vir hulle sê: ‘So sê יהוה-God: “So waar as Ek leef, die wat in die puinhope is, sal sekerlik deur die swaard val en wie ook al op die oop veld is, gee Ek aan die wilde diere oor om opgeëet te word en die wat in die vestings en in die grotte is, sal deur die pes sterf.

28. Ek sal die land ’n verlatenheid en ’n puinhoop maak en die trots van haar krag sal ophou en die berge van Yisra’el sal verlate wees sodat niemand sal deurgaan nie,

29. dan sal hulle weet dat Ek יהוה is, wanneer Ek die land ’n verlatenheid en ’n puinhoop maak as gevolg van al hul verwerplikhede wat hulle gedoen het.’”

30. Wat jou betref, seun van ’n mens, jou mede-burgers wat oor jou praat langs die mure en in die deure van die huise, hulle praat met mekaar, elkeen met sy broer en sê: ‘Kom nou en hoor wat die boodskap is wat van יהוה af uitgaan.’

31. Hulle kom na jou toe soos mense kom en sit voor jou as My volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie, want hulle doen die wellustige begeertes van hulle mond en hulle verstand, wil en emosie gaan agter hulle winste aan.

32. Let op, jy is vir hulle soos ’n sensuele lied deur een wat ’n mooi stem het en goed speel op ’n instrument, want hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.Deut 18:22

33. So wanneer dit gebeur; soos dit sekerlik sal; dan sal hulle weet dat ’n profeet tussen hulle was.”

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 33