Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 20:4-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Sal jy hulle oordeel, sal jy hulle oordeel, seun van ’n mens? Laat hulle die verwerplikhede van hulle vaders ken

5. en sê vir hulle: ‘So sê יהוה-God: “Op die dag toe Ek Yisra’el gekies het en tot die nageslag van die huis van Ya’akov gesweer het en My aan hulle bekend gemaak het in die land van Mitzrayim; toe Ek vir hulle gesweer en gesê het: Ek is יהוה, julle God,

6. op dié dag het Ek vir hulle gesweer, om hulle uit die land van Mitzrayim uit te bring na ’n land wat Ek vir hulle gekies het, wat vloei met melk en heuning, die lof en eer van alle lande.

7. Ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg, elkeen van julle, die verfoeilike dinge van voor sy oë en moet julle nie onteer met die afgode van Mitzrayim nie; Ek is יהוה, julle God.’

8. Hulle het egter teen My rebelleer en was nie gewillig om na My te luister en te doen nie; hulle het nie die verwerplike dinge van voor hulle oë weggegooi of die afgode van Mitzrayim laat staan nie. Toe het Ek vas besluit om My toorn oor hulle uit te giet, om My toorn teen hulle te laat uitwoed in die land van Mitzrayim,

9. maar Ek het gehandel ter wille van My Naam (Karakter en Outoriteit) sodat dit nie onteer sou word in die oë van die nasies onder wie hulle was nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Mitzrayim uit te bring.

10. Ek het hulle uit Mitzrayim uitgevat en hulle in die woestyn ingebring.

11. Ek het vir hulle My instellings gegee en hulle ingelig oor My wette, waarby, as die mens hulle gehoorsaam, hy sal leef.Yes 56:2-6

12. Ek het ook vir hulle My Shabbatte gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle sodat hulle kan weet dat Ek יהוה is wat hulle afsonder,

13. maar die huis van Yisra’el het teen My rebelleer in die wildernis. Hulle het nie in My instellings geloop nie en hulle het My wette verwerp, waardeur, as ’n mens hulle doen, hy sal leef en My Shabbatte het hulle grootliks onteer. Toe het Ek vas besluit om My toorn in die wildernis oor hulle uit te giet om hulle uit te wis.

14. Ek het egter opgetree ter wille van My Naam sodat dit nie onteer sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgebring het nie.

15. Ek het in die wildernis ook tot hulle gesweer dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek vir hulle gegee het, wat vloei met melk en heuning, wat die lof en eer van al die lande is, nie

16. omdat hulle My wette verwerp het en nie in My instellings geloop het nie; hulle het selfs My Shabbatte onteer, want hulle verstand, wil en emosie het aanhoudend agter hul afgode aangeloop.

17. Nogtans het My oog hulle gespaar eerder as om hulle te vernietig en Ek het nie hulle uitwissing in die wildernis veroorsaak nie.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 20