Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 7:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het Yeruba’al, (dit is Gid’on) en al die manne wat by hom was, vroeg opgestaan en langs `Ein-Harod gekamp en die kamp van Midyan was aan hulle noordekant by die heuwel Moreh, in die vallei.

2. יהוה sê vir Gid’on: “Die manne wat by jou is, is te veel vir My om Midyan in hulle hand te gee, want Yisra’el sal roem deur te sê: ‘My eie krag het my bevry.’

3. Kom daarom, verklaar ten aanhore van die manne en sê: ‘Wie ook al bang is en bewe, laat hulle teruggaan en wegdraai van die berg Gil’ad af.’” Twee en twintig duisend manne het teruggegaan, maar tien duisend het oorgebly.

4. Toe sê יהוה vir Gid’on: “Die manne is nog te veel; bring hulle af na die water en Ek sal hulle daar vir jou toets. Dit sal daarom wees dat hy van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moet saam met jou gaan,’ hy moet saam met jou gaan, maar elkeen van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moenie saam met jou gaan nie,’ hy moenie gaan nie.”

5. Hy bring toe die manne af na die water en יהוה sê vir Gid’on: “Elkeen wat met sy tong die water oplek soos wat ’n hond lek, moet jy bymekaar laat staan; sowel as elkeen wat kniel om te drink, moet bymekaar staan.”

6. Nou, die aantal van die wat opgelek het deur hulle hand na hulle mond toe te bring, was drie honderd man, maar al die res van die manne het gekniel om te drink.

7. יהוה sê vir Gid’on: “Deur die drie honderd man wat gelek het, sal Ek julle bevry en die Midyaniete in julle hande gee; laat dus al die ander manne gaan, elkeen na sy huis toe.”

8. Die 300 man vat die manne se kosvoorraad en hulle ramshorings in hul hand en Gid’on het al die ander manne van Yisra’el weggestuur, elkeen na sy tent, maar die drie honderd man het hy behou en die kamp van Midyan was onder hom in die vallei.

9. Nou dieselfde nag het dit gebeur dat יהוה vir hom gesê het: “Staan op, gaan af teen die kamp, want Ek het dit in jou hand gegee,

10. maar as jy bang is om af te gaan, gaan saam met jou dienskneg Purah af na die kamp toe

11. en jy sal hoor wat hulle sê en daarna sal jou hande sterk gemaak word sodat jy teen die kamp kan aftrek.” Hy gaan toe af saam met Purah, sy dienskneg, tot by die buiteposte van die leër wat in die kamp was.

12. Nou die Midyaniete, `Amalekiete en al die seuns van die Ooste het in die laagte gelê, soveel soos sprinkane en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand.

13. Toe Gid’on aankom, let op, ’n man het sy droom vir ’n ander vertel en hy het gesê: “Let op, ek het ’n droom gehad: ’n garsbrood het in die kamp van Midyan ingetuimel en gekom tot by die tent en dit geslaan sodat dit omval en onderstebo draai en die tent plat lê!”

Lees volledige hoofstuk Rigters 7