Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Nou het dit gebeur in daardie dae, toe daar geen koning in Yisra’el was nie, dat ’n sekere Leviet in die Bergland van Efrayim gebly het, wat vir homself ’n byvrou gevat het uit Beit-Legem in Y’hudah.

2. Sy byvrou het egter teen hom hoereer en van hom af weggegaan na haar vader se huis in Beit-Legem, Y’hudah en sy was daar vir ’n tydperk van vier maande.

3. Toe staan haar man op en gaan agter haar aan om sag met haar te praat en haar terug te bring en vat sy dienskneg saam met hom, met ’n paar donkies. Sy het hom in haar vader se huis ingebring en toe die jong vrou se vader hom sien, was hy bly om hom te ontmoet.

4. Sy skoonvader, die vader van die jong vrou, het hom teruggehou sodat hy drie dae by hom gebly het. Hulle het geëet en gedrink en daar oorgebly.

5. Op die vierde dag het hulle vroeg in die oggend opgestaan en hy het klaargemaak om te gaan en die vader van die jong vrou sê vir sy skoonseun: “Versterk jouself met ’n stukkie brood en daarna kan julle gaan.”

6. Albei het gaan sit en saam geëet en gedrink en die vader van die jong vrou sê aan die man: “Wees asseblief gewillig om die nag te bly en laat jou gemoed vrolik wees.”

7. Toe het die man opgestaan om te gaan, maar sy skoonvader het by hom aangedring sodat hy weer die nag daar oorgebly het.

8. Op die vyfde dag het hy opgestaan om vroeg in die oggend te gaan en die vader van die jong vrou sê: “Verkwik jouself en wag tot namiddag.” Beide van hulle het geëet.

9. Toe die man opstaan om saam met sy byvrou en sy dienskneg weg te gaan, sê sy skoonvader, die vader van die jong vrou, vir hom: “Let nou op, die dag is op sy einde; bly asseblief die nag oor sodat jou gemoed vrolik kan wees, dan, môre, kan julle vroeg opstaan vir julle reis sodat julle huis toe kan gaan.

10. Die man was egter nie gewillig om die nag oor te bly nie en hy het opgestaan en vertrek en saam met ’n paar opgesaalde donkies en sy byvrou by ’n plek oorkant Y’vus (dit is Yerushalayim) aangekom.

11. Toe hulle Y’vus nader, was die dag amper verby en die dienskneg sê vir sy meester: “Kom, asseblief en laat ons uitdraai na hierdie stad van die Y’vusiete en daarin oornag.”

12. Sy meester sê egter vir hom: “Ons sal nie uitdraai na ’n stad van vreemdelinge wat nie van die seuns van Yisra’el is nie, maar ons sal aangaan so ver as Giv’ah.

Lees volledige hoofstuk Rigters 19