Ou Testament

Nuwe Testament

Negemyah 9:18-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Ja, toe hulle ’n gegote kalf vir hulleself gemaak en gesê het: “Hierdie is jou god, o Yisra’el wat jou uit Mitzrayim laat optrek het” en hulle groot boosheid gedoen het,

19. het U in U grote omgee hulle nie verlaat in die wildernis nie; die wolkpilaar het nie bedags van hulle gewyk om hulle op hul reis te lei nie en ook nie die vuurpilaar snags om vir hulle die pad te verlig waarop hulle moes gaan nie.

20. U het U goeie Gees vir hulle gegee om hulle te onderrig en nie ‘man hu’ van hulle monde teruggehou nie en vir hulle water gegee vir hulle dors.

21. Ja, vir veertig jaar lank het U hulle onderhou in die wildernis en hulle het aan niks gebrek gehad nie. Hulle klere het nie verslyt nie en hulle skoene het geen gate in gehad nie.

22. Verder het U aan hulle die koninkryke van die ander nasies gegee en die land onder elke man verdeel. Hulle het die land van Sigon en die land van die koning van Heshbon, die land van Og, koning van Bashan, in besit geneem.

23. U het hulle kinders vermenigvuldig soos die sterre aan die hemel en U het hulle in die land ingebring waarvan U aan hulle vaders belowe het dat hulle sou ingaan om dit in besit te neem.

24. Hulle seuns het ingegaan en die land in besit geneem en U het die inwoners van die land van die Kena’aniete voor hulle verslaan en hulle in hul hand oorgegee met hulle konings sowel as die mense van die land, om met hulle te doen soos hulle wou.

25. Hulle het versterkte stede en ’n vrugbare land ingeneem, huise besit vol allerhande goeie dinge, uitgegroude putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in oorvloed. Hulle het geëet en is versadig en het ryk geword en hulle verheug in U groot goedheid.

26. Nogtans was hulle ongehoorsaam en het teen U oortree en U wet uit hulle raadgewings gegooi en U profete doodgemaak wat hulle gewaarsku het om na U terug te draai en hulle het groot boosheid gedoen;

27. daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, wat hulle onderdruk het en in die tyd van hulle onderdrukking, toe hulle tot U gebid het, het U uit die hemel gehoor en in U grote omgee aan hulle ’n verlosser gegee wat hulle gered het uit die hand van hul vyande.

28. Nadat hulle egter rus gehad het, het hulle weer boosheid gedoen voor U; daarom het U hulle gelos in die hand van hul vyande sodat dié heerskappy oor hulle gehad het. Tog, wanneer hulle teruggekeer en voor U gebid het, het U hulle vanuit die hemel gehoor en hulle baie keer volgens U groot omgee gered.

29. U het teenoor hulle getuig dat U hulle weer na U wet toe sal terugbring; tog het hulle verkeerd gedoen en nie U opdragte uitgevoer nie, maar gesondig teen U oordele, (waardeur ’n man sal lewe as hy hulle gehoorsaam), teen U ooreengekom, hardnekkig geword en hulle wou nie luister nie.

Lees volledige hoofstuk Negemyah 9