Ou Testament

Nuwe Testament

Mikhah 7:9-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Ek sal die verontwaardiging van יהוה dra, want ek het teen Hom gesondig totdat Hy my saak verdedig en my regverdig oordeel. Hy sal my uitbring na die Lig en ek sal Sy onpartydige opregtheid sien;

10. dan sal my vyand dit sien en skaamte sal haar bedek wat vir my gesê het: “Waar is יהוה, jou God?” My oë sal na haar kyk; in daardie tyd sal sy vertrap word soos die slik van die strate.

11. Daar kom ’n dag om jou mure te herbou! Op daardie dag sal jou grense uitgebrei word.

12. Dit sal ’n dag wees dat hulle na jou toe sal kom vanaf Ashur en vanaf die stede van Mitzrayim, vanaf Mitzrayim selfs tot by die Eufraat, selfs van see tot see en van berg tot berg.

13. Die aarde sal verlate word vanweë sy inwoners, as gevolg van die vrug van hulle dade.

14. Wees ’n Herder vir U volk met U septer, die kudde van U erfenis wat by hulleself in die bosveld bly in die middel van ’n vrugbare veld. Laat hulle wei in Bashan en Gil’ad soos in die ou dae.

15. “Soos in die dae toe jy uit die land van Mitzrayim gekom het, sal Ek vir jou wonderwerke wys.”

16. Nasies sal dit sien en skaam wees vir al hulle mag. Hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof wees.

17. Hulle sal die stof lek soos ’n slang, soos reptiele van die aarde. Hulle sal bewend uit hulle vestings kom; hulle sal sidderend na יהוה, ons God, toe kom en sal bang wees voor U.

18. Wie is ’n God soos U, wat die onregverdigheid vergewe en die rebelse dade laat verbygaan van hulle wat oorbly van Sy besitting? Hy behou nie Sy woede vir ewig nie, want Hy verheug Homself in onveranderlike liefde.

19. Hy sal weer liefdevolle omgee vir ons hê; Hy sal ons onregverdighede onder Sy voet vertrap. Ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see gooi.

20. U sal waarheid gee aan Ya’akov en onveranderlike liefde aan Avraham, soos wat U aan ons vaders met ’n eed belowe het vanaf die ou dae.

Lees volledige hoofstuk Mikhah 7