Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 6:16-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Wat daarvan oorbly, moet Aharon en sy seuns eet; as ongesuurde brode moet dit op ’n afgesonderde plek geëet word; in die voorhof van die Tent van Ontmoeting moet hulle dit eet.

17. Dit mag nie met suurdeeg gebak word nie. Ek het dit gegee as hulle deel van my offers wat met vuur gebring word. Dit is heeltemal afgesonderd, soos die sondoffer en die oortredingsoffer.

18. Almal wat manlik is onder die seuns van Aharon mag dit eet. Dit is ’n ewige instelling vir julle geslagte aangaande die offers wat met vuur gebring word tot יהוה. Almal wat daaraan raak, sal afgesonderd wees.’”

19. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

20. “Dit is die offer van Aharon en sy seuns, wat hulle aan יהוה moet bring, op die dag as hy gesalf word: ’n tiende van ’n efa fyn meel as ’n gereelde graanoffer; die helfte daarvan in die oggend en die helfte in die aand.

21. Dit moet in ’n pan met olie voorberei word; jy moet dit gemeng bring; die gebakte stukkies van die graanoffer moet jy offer as ’n aangename geur tot יהוה.

22. Die priester, wat uit sy seuns, in sy plek gesalf word, moet dit ook doen. Dit is ’n ewige instelling tot יהוה. Dit moet heeltemal geoffer, in rook opgaan,

23. want elke graanoffer van ’n priester moet volledig verbrand word; dit mag nie geëet word nie.”

24. יהוה het met Moshe gepaat en gesê:

25. “Praat met Aharon en sy seuns en sê: ‘Dit is die wet van die sondoffer: op die plek waar die brandoffer doodgemaak word, moet die sondoffer voor יהוה doodgemaak word. Dit is heeltemal afgesonderd.

26. Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ’n afgesonderde plek moet dit geëet word, in die voorhof van die Tent van Ontmoeting.

27. Elkeen wat aan die vleis daarvan raak, word afgesonder en as daar van die bloed op ’n kledingstuk spat, moet jy die stuk waarop dit spat, op ’n afgesonderde plek was,

28. maar die erdepot waarin dit gekook is, moet stukkend gebreek word. As dit in ’n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water afgespoel word.

29. Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is heeltemal afgesonderd,

30. maar geen sondoffer, waarvan ’n deel van die bloed in die Tent van Ontmoeting ingebring word, om in die Afgesonderde plek toedekking te doen, mag geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 6