Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 8:10-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Die briewe is geskryf in die naam (karakter en outoriteit) van koning Agashverosh en geseël met sy ring en hulle is gestuur met hardlopers, perderuiters en dromedarisse.

11. In hierdie briewe gee die koning toestemming aan die Y’hudahiete wat in elke stad bly om bymekaar te kom en hulle lewens te verdedig; om elkeen wat hulle mag onderdruk, saam met kinders en vroue en hulle besittings as buit te plunder, te vernietig, dood te maak en uit te roei

12. en dit op een dag, in al die provinsies van koning Agashverosh, op die dertiende van die twaalfde maand, dit is die maand Adar.

13. ’n Afskrif van die skrywe is uitgereik in elke provinsie en verklaar aan al die volke dat die Y’hudahiete op dié dag gereed moes wees om hulle op hul vyande te wreek.

14. Die hardlopers, perderuiters en dromedarisse het vanuit die paleis in Shushan uitgegaan, verhaas deur die opdrag en bevel van die koning.

15. Toe het Mordekhai uit die koning se teenwoordigheid weggegaan in koninklike klere van blou en fyn wit linne, met ’n goue kroon op en ’n bo-kleed van fyn wit linne en pers stof en die stad Shushan het gejubel en was bly.

16. Die Y’hudahiete het lig, blydskap, vreugde en eer gehad

17. en in elke provinsie en in elke stad waar die bevel van die koning en sy wet ook al gekom het, het die Y’hudahiete groot vreugde, ’n fees en ’n goeie dag gehad. Baie uit die volke van die land het verskrik geword, want vrees vir die Y’hudahiete het op hulle geval.

Lees volledige hoofstuk Ester 8