Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:8-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Moshe het hom gou laag na die aarde toe neergebuig en aanbid

9. en gesê: “יהוה, as ek nou guns in U oë gevind het, laat יהוה asseblief tussen ons trek, al is dit ’n hardnekkige volk, maar vergewe ons oortreding van die wet en ons sonde en vat ons as U eie besitting.”

10. Toe sê God: “Let op, Ek sluit ’n verbond. Voor jou hele volk sal Ek uitsonderlike wonderwerke doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie gedoen is nie sodat al die mense tussen wie jy is, die werk van יהוה kan sien, want dit is ’n verskriklike ding wat Ek met jou sal doen.

11. Wees seker om te gehoorsaam wat Ek jou op dié dag beveel. Let op, Ek gaan die Emoriete, Kena’aniete, Hittiete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete voor jou uit verdryf.

12. Pas jouself op dat jy geen verbond sluit met die inwoners van die land waarheen jy gaan nie sodat dit nie miskien ’n strik tussen julle word nie,

13. maar jy moet hulle altare vernietig, hulle afgesonderde pilare afbreek en hulle pale afkap,

14. want jy mag jou nie neerbuig voor enige ander god nie, want יהוה se Karakter en Outoriteit is jaloers; ’n jaloerse Magtige God is Hy,

15. anders sal julle ’n verbond sluit met die inwoners van die land en agter hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer en iemand sal jou uitnooi en jy sal van sy offers eet

16. en jy sal van sy dogters vat vir jou seuns en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.

17. Jy mag vir jou geen gegote gode maak nie.

18. Jy moet die Fees van Ongesuurde Brode hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die vasgestelde tyd in die maand Aviv, want in die maand Aviv het jy uit Mitzrayim uitgekom.

19. Alles wat die baarmoeder oopmaak, is Myne en elke eersteling van jou vee wat manlik is, van beeste en kleinvee,

20. maar die eersteling van ’n donkie moet jy met ’n lam loskoop en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop en niemand mag met leë hande voor My verskyn nie.

21. Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus; selfs in die ploegtyd en in die oestyd, moet jy rus.

22. Jy moet die Fees van Weke hou, die fees van die eerstelinge van die graan-oes en die Fees van Insameling, by die wisseling van die jaar.Hand 2:1

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34