Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:21-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. Toe het Moshe al die oudstes van Yisra’el laat roep en vir hulle gesê: “Gaan haal vir julle lammers uit volgens julle families en slag die Pesag.

22. Vat ’n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is en smeer aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is en niemand van julle mag by die deur van sy huis uitgaan tot dagbreek toe nie,

23. want יהוה sal deurgaan om die hele Mitzrayim te slaan en wanneer Hy die bloed sien aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte, sal יהוה by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om in julle huise in te gaan om julle te slaan nie.

24. Julle moet dit hou as ’n vasgestelde tyd vir julself en vir jul kinders, vir ewig.

25. Dit sal wees as julle in die land kom wat יהוה aan julle sal gee, soos Hy beloof het dat julle hierdie diens sal hou

26. en as julle seuns julle sal vra: ‘Wat beteken die diens?’

27. dan moet julle sê: ‘Dit is die Pesagoffer aan יהוה, wat by die huise van die seuns van Yisra’el in Mitzrayim verbygegaan het, toe Hy die Mitzrayiete geslaan, maar ons huise gespaar het’.” Toe het die volk neergebuig en met hulle gesigte op die grond gelê.

28. Die seuns van Yisra’el het gegaan en gedoen soos יהוה aan Moshe en Aharon beveel het, so het hulle gedoen.

29. Dit het gebeur om middernag dat יהוה al die eersgeborenes in Mitzrayim geslaan het; van die eersgeborene van Farao af, wat op sy troon gesit het, tot by die eersgeborene van die gevangene wat in die tronk was, asook al die eersgeborenes van die diere.

30. Farao het in die nag opgestaan, hy, al sy diensknegte en al die Mitzrayiete en daar was ’n groot uitroep in Mitzrayim, want daar was geen huis waarin iemand nie dood is nie.

31. Hy het Moshe en Aharon in die nag laat roep en gesê: “Staan op, gaan weg onder my volk uit, julle sowel as die seuns van Yisra’el en gaan dien יהוה soos julle gesê het.

32. Vat ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gesê het, gaan weg en seën my ook.”

33. Die Mitzrayiete het aangehou by die volk, om hulle haastig uit die land uit te stuur, want hulle het gedink: ‘Ons sal almal sterf!’

34. Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle klere toegebind, op die skouers.

35. Die seuns van Yisra’el het gedoen volgens die woord van Moshe: hulle het van die Mitzrayiete silwer en goue goed en klere gevra

36. en יהוה het aan die volk guns verleen in die oë van die Mitzrayiete en dié het hulle versoek toegestaan. So het hulle die Mitzrayiete geplunder.

37. Die seuns van Yisra’el het van Ra’amses na Sukkot gereis, omtrent ses honderd duisend manne te voet, buiten die kinders.

38. ’n Gemengde menigte van mense het ook saam met hulle opgegaan en troppe kleinvee en beeste; uitermate baie lewende hawe.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12