Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:16-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Op die eerste dag moet daar ’n afgesonderde bymekaarkoms wees en ook op die sewende dag moet daar vir julle ’n afgesonderde bymekaarkoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie, behalwe vir elkeen om te eet, dit alleen mag deur julle voorberei word.Eks 16:23; Eks 35:3

17. Onderhou die Ongesuurde Brode, want op hierdie selfde dag het Ek julle leërs uit die land van Mitzrayim uitgelei; daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ’n ewige vasgestelde tyd hou.

18. In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, sonsondergang, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, teen sonsondergang.

19. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie, want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié lewe moet uit die bymekaarkoms van Yisra’el afgesny word, of hy nou ’n besoeker is of ’n seun van die land.

20. Julle mag niks met suurdeeg in, eet nie. In al julle blyplekke moet julle ongesuurde brode eet.”

21. Toe het Moshe al die oudstes van Yisra’el laat roep en vir hulle gesê: “Gaan haal vir julle lammers uit volgens julle families en slag die Pesag.

22. Vat ’n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is en smeer aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is en niemand van julle mag by die deur van sy huis uitgaan tot dagbreek toe nie,

23. want יהוה sal deurgaan om die hele Mitzrayim te slaan en wanneer Hy die bloed sien aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte, sal יהוה by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om in julle huise in te gaan om julle te slaan nie.

24. Julle moet dit hou as ’n vasgestelde tyd vir julself en vir jul kinders, vir ewig.

25. Dit sal wees as julle in die land kom wat יהוה aan julle sal gee, soos Hy beloof het dat julle hierdie diens sal hou

26. en as julle seuns julle sal vra: ‘Wat beteken die diens?’

27. dan moet julle sê: ‘Dit is die Pesagoffer aan יהוה, wat by die huise van die seuns van Yisra’el in Mitzrayim verbygegaan het, toe Hy die Mitzrayiete geslaan, maar ons huise gespaar het’.” Toe het die volk neergebuig en met hulle gesigte op die grond gelê.

28. Die seuns van Yisra’el het gegaan en gedoen soos יהוה aan Moshe en Aharon beveel het, so het hulle gedoen.

29. Dit het gebeur om middernag dat יהוה al die eersgeborenes in Mitzrayim geslaan het; van die eersgeborene van Farao af, wat op sy troon gesit het, tot by die eersgeborene van die gevangene wat in die tronk was, asook al die eersgeborenes van die diere.

30. Farao het in die nag opgestaan, hy, al sy diensknegte en al die Mitzrayiete en daar was ’n groot uitroep in Mitzrayim, want daar was geen huis waarin iemand nie dood is nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12