Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 14:19-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

19. Die koning het gevra: “Is Yo’av se hand saam met jou in dit alles?” Die vrou antwoord: “So waar as wat u leef, my meester die koning, niemand kan regs of links afwyk van enige iets wat my meester die koning gesê het nie. Inderdaad, dit was u dienskneg Yo’av wat my beveel het en dit is hy wat al hierdie woorde in u dienares se mond gelê het.

20. Om dinge anders te laat lyk, het u dienskneg Yo’av hierdie ding gedoen, maar my meester is wys, soos die wysheid van die boodskapper van God, om alles te weet wat op die aarde is.”

21. Toe sê die koning vir Yo’av: “Nou let op, ek sal dit doen. Gaan daarom, bring die jongman Avshalom terug.”

22. Yo’av het op sy gesig op die grond neergeval, uitgestrek op die grond gelê en die koning geseën. Toe sê Yo’av: “My meester die koning, vandag weet u dienskneg dat ek guns in u oë gevind het omdat die koning die versoek van sy dienskneg uitgevoer het.”

23. Yo’av het opgestaan, na G’shur gegaan en vir Avshalom na Yerushalayim gebring.

24. Die koning het egter gesê: “Laat hom na sy eie huis gaan en nie my gesig sien nie.” Avshalom het na sy eie huis gegaan en nie die gesig van die koning gesien nie.

25. Nou, in die hele Yisra’el was daar geen man so aantreklik soos Avshalom en so hoog geprys nie; van sy voetsool af tot by die kroon van sy kop, was daar geen gebrek aan hom nie.

26. Wanneer hy die hare van sy kop laat skeer het, (dit was aan die einde van elke jaar dat hy dit geskeer het), want dit was swaar op hom; daarom het hy dit geskeer; het hy die hare van sy kop teen twee honderd sikkels geweeg volgens die koninklike gewig.

27. Vir Avshalom is drie seuns gebore en een dogter met die naam van Tamar, sy was ’n vrou van pragtige voorkoms.

28. Avshalom het twee volle jare in Yerushalayim gebly en hy het nie die gesig van die koning gesien nie.

29. Toe het Avshalom Yo’av laat roep, om hom na die koning te stuur, maar hy wou nie na hom toe kom nie. Hy het vir ’n tweede keer gestuur, maar hy wou nie kom nie.

30. Hy sê daarom vir sy diensknegte: “Kyk, Yo’av se land is langs myne en hy het gars daarop; gaan steek dit aan die brand.” Avshalom se diensknegte het die land aan die brand gesteek.

31. Toe staan Yo’av op, kom by Avshalom in sy huis en vra vir hom: “Waarom het jou diensknegte my land aan die brand gesteek?”

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 14