Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:22-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. As iemand sy naaste te na sou kom en hulle hom ’n eed laat aflê en hy kom en sweer voor U altaar in hierdie huis,

23. hoor dan uit die hemel sy gebed, tree op en oordeel U diensknegte, deur die skuldige te vergeld deur sy skuld op sy eie kop af te bring en die regverdige onskuldig te verklaar deur hom te beloon volgens sy onpartydige opregtheid.

24. As U volk, Yisra’el, verslaan word voor ’n vyand omdat hulle teen U gesondig het en hulle keer terug na U en bely U groot Naam (Karakter en Outoriteit) en bid en smeek voor U Teenwoordigheid in hierdie huis,

25. hoor dan uit die hemel en vergewe die sonde van U volk Yisra’el en bring hulle terug na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het.

26. Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie omdat hulle teen U gesondig het en hulle tog in U Teenwoordigheid in hierdie plek tot U bid en U groot Naam (Karakter en Outoriteit) bely en wegdraai van hulle sonde wanneer U hulle teister,

27. hoor dan vanuit die hemel hulle gebed en vergewe die sondes van U diensknegte en van U volk Yisra’el, wanneer U hulle die goeie pad leer waarin hulle moet loop en reën van seën stuur op die land wat U aan U volk gegee het as ’n erfenis.

28. As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of ruspes is, as hulle vyande hul beleër in die stede in hulle land, watter probleem of watter siekte daar ook al is,

29. dan, watter gebed, watter smeking ook al deur enige mens of deur U hele volk Yisra’el gedoen sal word, wanneer elkeen sy eie probleem sal verklaar en sal kom en sy hande in hierdie huis uitsprei,

30. hoor dan vanuit die hemel hulle gebed en vergewe hulle sonde en gee aan elke mens volgens al sy wandel, wie se verstand, wil en emosie U ken, want U alleen ken die verstand, wil en emosie van al die mensekinders

31. sodat hulle U respekvol kan vrees om voor U te lewe in U lewenswyse, solank hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

32. Verder, wat die vreemdelinge betref wat nie deel van U volk Yisra’el is nie, maar uit ’n ver land kom ter wille van U groot Naam (Karakter en Outoriteit), U sterke hand en U uitgestrekte arm, as hulle kom en op daardie dag in U Teenwoordigheid in hierdie huis bid,

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6