Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:8-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Dit het gebeur toe Elisha, die man van God, hoor dat die koning van Yisra’el sy klere geskeur het, hy woord vir die koning stuur en sê: “Waarom het u u klere geskeur? Laat hom nou na my toe kom en hy sal weet dat daar ’n profeet in Yisra’el is.”

9. So het Na’aman gekom met sy perde en met sy waens en by die ingang van Elisha se huis gestaan.

10. Elisha stuur ’n boodskapper na hom toe om te sê: “Gaan en was sewe maal in die Yarden en jou vlees sal aan jou herstel word en jy sal rein wees.”

11. Na’aman was egter woedend en het weggegaan en gesê: “Let op, ek het gedink: ‘Hy sal sekerlik uitkom om my te sien en staan en die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, sy God, aanroep en sy hand oor die plek waai en die melaatsheid genees.

12. Is Abanah en Farpar, die riviere van Dammesek, nie beter as al die waters van Yisra’el nie? Kon ek my nie daarin was en rein wees nie?” Hy het omgedraai en in woede weggery.

13. Toe kom sy diensknegte nader en praat met hom en sê: “My vader, as die profeet u gevra het om ’n groot ding te doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer dan, wanneer hy vir u sê: ‘Was en wees rein?’”

14. Hy het afgegaan en homself sewe maal in die Yarden gewas volgens die woord van die man van God en sy vlees is herstel soos die vlees van ’n jong seun en hy was rein.

15. Toe hy terugkom by die man van God met sy hele gevolg, het hy gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Let op, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Yisra’el; vat asseblief nou ’n geskenk vanaf u dienskneg.”

16. Hy sê egter: “Sowaar as יהוה leef voor wie ek staan, ek sal niks vat nie!” Hy het by hom aangedring om dit te vat, maar hy het geweier.

17. Na’aman het gesê: “Indien nie, laat daar asseblief twee muilvragte grond vir my gegee word, want u dienskneg sal nie langer brandoffers offer, of aan ander gode offer nie, maar net aan יהוה.

18. Mag יהוה in hierdie saak u dienskneg vergewe: wanneer my meester in die huis van Rimmon ingaan om hom daar neer te buig terwyl hy op my hand leun en ek my in die huis van Rimmon neerbuig; wanneer ek my neerbuig in die huis van Rimmon, mag יהוה u dienskneg in hierdie saak vergewe.”

19. Hy sê vir hom: “Gaan in vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid!” Hy het ’n ent van hom af weggegaan,

20. maar Geigazi, die dienaar van Elisha, die man van God, het gedink: “Let op, my meester het hierdie Na’aman, die Arameër, gespaar deur nie uit sy hand aan te neem wat hy gebring het nie. So waar as יהוה leef, ek sal agter hom aan hardloop en iets van hom af vat.”

21. Geigazi het Na’aman dus agternagesit. Toe Na’aman een agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgeklim om hom te ontmoet en gesê: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid.”

22. Hy antwoord: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, my meester het my gestuur om te sê: ‘Let op, daar het nou net twee jongmanne van die profeteseuns, van die bergland van Efrayim af, na my toe gekom. Gee asseblief vir hulle ’n talent silwer en twee stelle klere.’”

23. Na’aman het gesê: “Wees vry om twee talente te vat!” Hy het by hom aangedring en twee talente silwer in twee sakke toegebind en dit saam met twee stelle klere aan twee van sy dienaars gegee, wat dit voor hom uit gedra het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5