Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 14:7-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Sy wapendraer sê vir hom: “Doen alles wat in u begeerte is, draai uself en hier is ek by u, volgens u begeerte.”

8. Toe sê Y’honatan: “Let op, ons sal na die manne toe oorgaan en ons vir hulle wys.

9. As hulle vir ons sê: ‘Wag totdat ons by julle kom,’ dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie,

10. maar as hulle sê: ‘Kom op na ons toe,’ dan sal ons opklim, want יהוה het hulle in ons hand gegee en dit sal vir ons die teken wees.”

11. Toe beide van hulle hulself wys vir die garnisoen van die F’lishtyne, sê die F’lishtyne: “Let op, Hebreërs kom uit die gate uit waar hulle hulself weggesteek het.”

12. Die manne van die garnisoen het Y’honatan en sy wapendraer geroep en gesê: “Kom op na ons toe, dan sal ons julle iets vertel!” Y’honatan sê vir sy wapendraer: “Kom op agter my, want יהוה het hulle in die hand van Yisra’el gegee.”

13. Toe klim Y’honatan boontoe op sy hande en voete en sy wapendraer agter hom en hulle het voor Y’honatan geval en sy wapendraer het sommige doodgemaak agter hom.

14. Daardie eerste slagting deur Y’honatan en sy wapendraer, was ongeveer twintig man; hulle het hul opgesny soos klipsnyers en soos manne wat ’n land ploeg.

15. Toe kom daar ’n bewing in die kamp, in die veld en onder al die manne. Selfs die garnisoen en die roofkommando het gebewe en die aarde het gebewe sodat dit ’n groot bewing geword het.

16. Sha’ul se wagte in Giv’ah-Binyamin het gekyk en let op, die menigte smelt weg en hulle gaan heen en weer.

17. Sha’ul sê vir die manne wat by hom was: “Tel nou en kyk wie van ons af weggegaan het.” Toe hulle getel het, let op, was Y’honatan en sy wapendraer nie daar nie.

18. Toe sê Sha’ul vir Agiyah: “Bring die ark van God hier.” Die ark van God was in dié tyd by die seuns van Yisra’el.

19. Terwyl Sha’ul met die priester gepraat het, het die verwarring in die kamp van die F’lishtyne aangehou en groter geword. Sha’ul sê vir die priester: “Trek jou hand terug!”

20. Toe het Sha’ul en al die manne wat by hom was, bymekaargekom en hulle het by die geveg aangekom en let op, elkeen se swaard was teen die ander en daar was ’n baie groot verwarring.

21. Die Hebreërs wat vroeër saam met die F’lishtyne was, wat oral saam met hulle in die kamp gegaan het, selfs hulle het ook omgedraai om saam met die Yisra’eliete wat saam met Sha’ul en Y’honatan was, te wees.

22. Toe al die manne van Yisra’el, wat hulself in die bergland van Efrayim weggesteek het, hoor dat die F’lishtyne gevlug het, het selfs ook hulle hul in die geveg agternagesit.

23. So het יהוה Yisra’el op dié dag bevry en die geveg het verby Beit-Aven versprei.

24. Die manne van Yisra’el is hard gedryf op daardie dag, want Sha’ul het die manne onder eed geplaas en gesê: “Vervloek is die man wat iets eet voor die aand en totdat ek myself op my vyande gewreek het.” Nie een van die manne het aan iets geproe nie.

25. Almal van die land het die bos ingegaan en daar was heuning op die grond.

26. Toe die manne in die bos ingaan, let op, was daar ’n oorvloed van heuning, maar niemand het sy hand aan sy mond gesit nie omdat die manne bang was vir die eed.

27. Y’honatan het egter nie gehoor toe sy vader die manne onder eed geplaas het nie; daarom het hy die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in ’n heuningkoek gedoop en sy hand aan sy mond gesit en sy oë het verhelder.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 14