Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 14:35-46 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

35. Sha’ul het vir יהוה ’n altaar gebou; dit was die eerste altaar wat hy vir יהוה gebou het.

36. Toe sê Sha’ul: “Laat ons afgaan in die nag agter die F’lishtyne aan en laat ons buit van hulle afvat tot die oggendlig en laat ons nie ’n man onder hulle laat oorbly nie. Hulle antwoord: “Doen wat ook al goed is in u oë.” Die priester het gesê: “Laat ons hier tot God nader.”

37. Sha’ul het God geraadpleeg: “Sal ek afgaan agter die F’lishtyne aan? Sal U hulle in Yisra’el se hand gee?” Hy het hom egter nie daardie dag geantwoord nie.

38. Sha’ul het gesê: “Kom nader hierheen, al die leiers van die volk en ondersoek en kyk hoe hierdie sonde vandag gebeur het,

39. want soos יהוה leef wat Yisra’el verlos, al was dit ook in my seun Y’honatan, dan moet hy sekerlik sterf!” Niemand uit al die manskappe het hom egter geantwoord nie.

40. Toe sê hy vir die hele Yisra’el: “Julle sal aan die een kant wees en ek en my seun Y’honatan sal aan die anderkant wees.” Die manne antwoord Sha’ul: “Doen wat vir u goed lyk.”

41. Sha’ul het daarom vir יהוה, God van Yisra’el, gesê: “Gee ’n volmaakte keuse!” Y’honatan en Sha’ul is aangewys, maar die manne het vry gekom.

42. Sha’ul het gesê: “Werp die lot tussen my en my seun Y’honatan.” Y’honatan is aangewys.

43. Toe vra Sha’ul vir Y’honatan: “Vertel my wat jy gedoen het.” Y’honatan het hom vertel en gesê: “Ek het inderdaad ’n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was. Hier is ek, ek moet sterf.”

44. Sha’ul het gesê: “Mag God dit aan my doen en ook meer, want jy moet sekerlik sterf, Y’honatan!”

45. Die manne het egter vir Sha’ul gesê: “Moet Y’honatan sterf; wat hierdie groot bevryding in Yisra’el bewerk het? ’n Verwerplike gedagte! Soos יהוה leef, nie een haar van sy kop sal op die grond val nie, want hy het met God gewerk hierdie dag.” So het die volk Y’honatan bevry en hy het nie gesterf nie.

46. Toe het Sha’ul opgehou om die F’lishtyne te agtervolg en die F’lishtyne het na hulle eie plek gegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 14