Ou Testament

Nuwe Testament

1 Sh'mu'el 10:11-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. Dit het gebeur toe almal wat hom vroeër geken het, sien dat hy nou saam met die profete profeteer, die mense vir mekaar gesê het: “Wat het gebeur met die seun van Kish? Is Sha’ul ook onder die profete?”

12. ’n Man vanaf dieselfde plek het gesê: “Maar wie is sy vader?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Sha’ul ook onder die profete?”

13. Toe hy klaar geprofeteer het, het hy by die hoë plek aangekom.

14. Sha’ul se oom het vir hom en sy dienskneg gevra: “Waarheen het julle gegaan?” Hy sê: “Om na die donkies te soek en toe ons sien dat hulle nie te vinde was nie, het ons na Sh’mu’el gegaan.”

15. Sha’ul se oom sê: “Vertel my asseblief wat Sh’mu’el vir julle gesê het.”

16. Sha’ul sê toe vir sy oom: “Hy het ons reguit vertel dat die donkies gevind is.” Hy het hom egter nie van die saak van die koningskap, wat Sh’mu’el genoem het, vertel nie.

17. Daarna het Sh’mu’el die volk by יהוה in Mitzpah saamgeroep

18. en vir die seuns van Yisra’el gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Ek het Yisra’el uit Mitzrayim gebring en Ek het julle bevry uit die hand van die Mitzrayiete en uit die krag van al die koninkryke wat julle onderdruk het,’

19. maar julle het julle God vandag verwerp, wat julle uit al jul onheile en benoudhede bevry het; tog het julle gesê: ‘Nee, maar stel ’n koning oor ons aan. Nou, daarom, bied julleself aan voor die Teenwoordigheid van יהוה volgens julle stamme en volgens julle families.”

20. So het Sh’mu’el al die stamme van Yisra’el nader laat kom en die stam van Binyamin is deur die lot gekies.

21. Toe het hy die stam van Binyamin laat naderkom volgens sy families en die familie van Matri is gekies. Sha’ul, die seun van Kish, is gekies, maar toe hulle hom soek, kon hy nie gekry word nie;

22. daarom het hulle יהוה verder geraadpleeg: “Het die man al hierheen gekom?” יהוה sê: “Let op, hy het homself tussen die pakgoed weggesteek.”

23. Hulle hardloop toe en het hom daarvandaan gebring en toe hy tussen die mense gaan staan het, was hy van sy skouers af boontoe langer as enige van die mense.

Lees volledige hoofstuk 1 Sh'mu'el 10