Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:4-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Hy sê vir Y’hoshafat: “Sal u saam met my gaan om te veg by Ramot-Gil’ad?” Y’hoshafat antwoord die koning van Yisra’el: “Ek is soos u is, my volk soos u volk, my perde soos u perde.”

5. Y’hoshafat sê verder ook vir die koning van Yisra’el: “Vra asseblief eers vir die woord van יהוה.”

6. Toe maak die koning van Yisra’el die profete bymekaar, omtrent vier honderd man en sê vir hulle: “Sal ek teen Ramot-Gil’ad gaan om te veg of nie?” Hulle antwoord: “Gaan op, want יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

7. Y’hoshafat sê egter: “Is daar nie nog ’n profeet van יהוה sodat ons deur hom kan vra nie?”

8. Die koning van Yisra’el antwoord Y’hoshafat: “Daar is nog een man deur wie ons by יהוה kan vra, maar ék haat hom omdat hy nie goed oor my profeteer nie, maar boosheid; Mikhay’hu, die seun van Yimlah.” Y’hoshafat sê egter: “Laat die koning nie so praat nie!”

9. Toe roep die koning van Yisra’el ’n amptenaar en sê: “Bring gou vir Mikhay’hu, die seun van Yimlah.”

10. Die koning van Yisra’el en Y’hoshafat, koning van Y’hudah, het by die dorsvloer by die ingang van die poort van Shomron, elkeen op sy troon gesit, aangetrek in hulle koninklike klere en al die profete het voor hulle profeteer.

11. Toe het Tzidkiyah, die seun van ’n Kena’anitiese vrou, vir homself ysterhorings gemaak en gesê: “So sê יהוה: ‘Hiermee sal u die Arameërs deurboor totdat hulle verteer is.’”

12. Al die profete het so geprofeteer en gesê: “Gaan op na Ramot-Gil’ad en wees voorspoedig, want יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

13. Toe praat die boodskapper wat gegaan het om Mikhay’hu te roep en sê vir hom: “Let nou op, die woorde van die profete is eenvormig gunstig vir die koning. Laat u woorde asseblief wees soos die woorde van een van hulle en praat gunstig.”

14. Mikhay’hu sê egter: “So waar as יהוה leef, wat יהוה vir my sê, dit sal ek sê!”

15. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: “Mikhay’hu, sal ons na RamotGil’ad gaan om te veg, of sal ons dit laat staan?” Hy antwoord hom: “Gaan op en wees suksesvol en יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22