Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:12-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Al die profete het so geprofeteer en gesê: “Gaan op na Ramot-Gil’ad en wees voorspoedig, want יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

13. Toe praat die boodskapper wat gegaan het om Mikhay’hu te roep en sê vir hom: “Let nou op, die woorde van die profete is eenvormig gunstig vir die koning. Laat u woorde asseblief wees soos die woorde van een van hulle en praat gunstig.”

14. Mikhay’hu sê egter: “So waar as יהוה leef, wat יהוה vir my sê, dit sal ek sê!”

15. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: “Mikhay’hu, sal ons na RamotGil’ad gaan om te veg, of sal ons dit laat staan?” Hy antwoord hom: “Gaan op en wees suksesvol en יהוה sal dit in die hand van die koning gee.”

16. Toe sê die koning vir hom: “Hoeveel maal moet ek jou laat sweer dat jy niks anders as die waarheid in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה tot my moet praat nie?”

17. Toe sê hy: “Ek het die hele Yisra’el verstrooid gesien op die berge soos skape wat geen herder het nie en יהוה het gesê: ‘Hulle het geen meester nie; laat elkeen van hulle teruggaan na sy huis in vrede.’”

18. Toe sê die koning van Yisra’el vir Y’hoshafat: “Het ek u nie gesê dat hy nie goed aangaande my sal profeteer nie, maar boosheid?”

19. Mikhay’hu sê: “Daarom, hoor die woord van יהוה. Ek het יהוה sien sit op Sy troon en al die hemelse leërskare wat by Hom staan, aan Sy regter- en aan Sy linkerkant.

20. יהוה het gesê: ‘Wie sal Ag’av verlei om op te gaan en te val by Ramot-Gil’ad?’ Een het so gesê en die ander weer anders.

21. Toe kom ’n gees vorentoe en staan voor יהוה en sê: ‘Ek sal hom verlei.’

22. יהוה vra vir hom: ‘Hoe?’ Hy sê: ‘Ek sal uitgaan en ’n misleidende gees wees in die mond van al sy profete.’ Toe sê Hy: ‘Jy moet hom verlei en ook oorwin; gaan en doen so;’

23. daarom, let op, יהוה het ’n misleidende gees in die mond van al hierdie profete van u gegee en יהוה het tragedie oor u verklaar.”

24. Toe kom Tzidkiyah, die seun van ’n Kena’anitiese vrou, nader en slaan vir Mikhay’hu op die wang en sê: “Hoe het die Gees van יהוה van my af weggegaan om met jou te praat?”

25. Mikhay’hu antwoord: “Let op, jy sal dit sien op daardie dag dat jy ’n binnekamer ingaan om jouself weg te steek.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22