Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:5-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Jy weet ook wat Yo’av, die seun van Tz’ruyah, aan my gedoen het; wat hy aan die twee bevelvoerders van die leër van Yisra’el, Avner, die seun van Ner en `Amasa, die seun van Yeter, gedoen het; wat hy vermoor het en ook oorlogsbloed in vredestyd vergiet het en hy het die oorlogsbloed op sy gordel om sy heupe en op die sandale aan sy voete gesit.

6. Tree op volgens jou wysheid en moenie sy grys hare in vrede in Sh’ol laat afgaan nie,

7. maar wys goedheid aan die seuns van Barzillai, die Gil’adiet en laat hulle wees onder dié wat aan jou tafel eet, want hulle het my bygestaan toe ek vir jou broer Avshalom gevlug het.

8. Let op, Shim’i, die seun van Gera, die Binyaminiet van Bagurim, is daar by jou; dit is hy wat my vervloek het met ’n hewige vloek op die dag toe ek na Maganayim gegaan het, maar toe hy afgekom het na my by die Yarden, het ek vir hom by יהוה gesweer en gesê: “Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.”

9. Nou, daarom moet jy hom nie ongestraf laat bly nie, want jy is ’n wyse man en jy sal weet wat jy aan hom moet doen en sy grys hare met bloed in Sh’ol afbring.”

10. Toe is Dawid by sy vaders neergelê en is begrawe in die stad van Dawid.

11. Die dae wat Dawid oor Yisra’el regeer het, was veertig jaar: in Hevron het hy sewe jaar regeer en drie en dertig jaar in Yerushalayim.

12. Shlomo het op die troon van Dawid, sy vader, gaan sit en sy koningskap was stewig vasgemaak.

13. Adoniyah, die seun van Haggit, het na Bat-Sh’va, die moeder van Shlomo, gekom en sy het gevra: “Kom jy in vrede?” Hy antwoord: “In vrede.”

14. Toe het hy gesê: “Ek het iets om vir u te sê.” Sy antwoord: “Praat.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2