Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1:11-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. Toe praat Natan met Bat-Sh’va, die moeder van Shlomo en sê: “Het u nie gehoor dat Adoniyah, die seun van Haggit, koning geword het en dat ons meester Dawid dit nie weet nie?

12. Kom dan nou, laat ek u asseblief raad gee dat u u lewe en die lewe van u seun Shlomo kan red.

13. Gaan dadelik na koning Dawid en sê vir hom: “Het ú nie, my meester die koning, vir u dienares gesweer en gesê: ‘Jou seun Shlomo sal sekerlik koning wees ná my en hy sal op my troon sit,’ nie? Waarom het Adoniyah dan koning geword?

14. Let op, terwyl u nog daar is en met die koning praat, sal ék agter u inkom en u woorde bevestig.”

15. Bat-Sh’va het ingegaan by die koning in die slaapkamer. Nou, die koning was baie oud en Avishag, die Shunamiet, het die koning bedien.

16. Toe het Bat-Sh’va gebuig en op die grond gaan lê voor die koning. Die koning het gesê: “Wat wil jy hê?”

17. Sy antwoord hom: “My meester, ú het by יהוה u God vir u dienares gesweer en gesê: ‘U seun Shlomo sal sekerlik ná my koning wees en hy sal op my troon sit.’

18. Nou, let op, Adoniyah is koning en nou, my meester die koning, u het dit nie geweet nie.

19. Hy het beeste, vetgemaakte vee en kleinvee in oorvloed geoffer en al die seuns van die koning, Evyatar, die priester en Yo’av, die bevelvoerder van die leër, genooi, maar hy het nie vir Shlomo, u dienskneg, genooi nie.

20. Wat ú betref, my meester, die koning, die oë van die hele Yisra’el is op u om vir hulle te vertel wie op die troon van my meester, die koning, ná hom sal sit.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 1