Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Koning Dawid was oud en ver gevorderd in jare en hulle het hom met klere toegemaak, maar hy kon nie warm word nie.

2. Sy diensknegte sê vir hom: “Laat hulle vir my meester die koning ’n jong maagd soek en laat sy die koning versorg en sy verpleegster word en laat haar in u skoot lê sodat my meester die koning warm kan bly.”

3. Hulle het in die hele grondgebied van Yisra’el ’n mooi meisie gesoek en Avishag, die Shunamiet, gevind en haar na die koning toe gebring.

4. Die meisie was baie mooi en sy was vir die koning ’n verpleegster en het hom bedien, maar die koning het geen gemeenskap met haar gehad nie.

5. Nou, Adoniyah, die seun van Haggit, het homself verhoog en gesê: “Ek sal koning wees!” Hy het vir homself strydwaens en perderuiters voorberei en vyftig man om voor hom uit te hardloop.

6. Sy vader het hom nooit te eniger tyd teëgegaan deur te vra: “Waarom het jy so gemaak?” nie. Hy was ook altyd ’n baie aantreklike man en hy is ná Avshalom gebore.

7. Hy het met Yo’av, die seun van Tz’ruyah, beraadslag, asook met Evyatar, die priester en deur hom te volg het hulle Adoniyah gehelp.

8. Tzadok, die priester, B’nayah, die seun van Y’hoyada, Natan, die profeet, Shim’i, Re’i en die magtige manne van Dawid was nie by Adoniyah nie.

9. Adoniyah het kleinvee, beeste en vetgemaakte vee geslag by die klip van Zogelet wat langs `Ein-Rogel staan en al sy broers, die seuns van die koning en al die manne van Y’hudah, die diensknegte van die koning, genooi,

10. maar vir Natan, die profeet, B’nayah, die magtige manne en vir sy broer Shlomo, het hy nie genooi nie.

11. Toe praat Natan met Bat-Sh’va, die moeder van Shlomo en sê: “Het u nie gehoor dat Adoniyah, die seun van Haggit, koning geword het en dat ons meester Dawid dit nie weet nie?

12. Kom dan nou, laat ek u asseblief raad gee dat u u lewe en die lewe van u seun Shlomo kan red.

13. Gaan dadelik na koning Dawid en sê vir hom: “Het ú nie, my meester die koning, vir u dienares gesweer en gesê: ‘Jou seun Shlomo sal sekerlik koning wees ná my en hy sal op my troon sit,’ nie? Waarom het Adoniyah dan koning geword?

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 1