Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 8:32-49 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

32. Daar was ’n groot trop varke wat op die berg gewei het en hulle smeek Hom dat Hy hulle sou toelaat om in hulle in te gaan en Hy het hulle toegelaat.

33. Die demone het uit die man uitgegaan, in die varke in en dadelik het die trop van die oorhangsel af in die meer ingestorm en verdrink.

34. Toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die omgewing gaan vertel.

35. Die manne het uitgegaan om te sien wat gebeur het en hulle het by Yeshua gekom en die man, uit wie die demone uitgegaan het, gesien sit by Yeshua se voete, aangetrek en by sy verstand en hulle het respekvol gevrees.

36. Die wat dit gesien het, het aan hulle vertel hoe die een wat deur demone beheer is, bevry is

37. en al die Gadareners het Hom gevra om van hulle af weg te gaan, want ’n groot vrees het hulle aangegryp. Yeshua het in die boot geklim en teruggegaan van hulle af weg.

38. Die man wat bevry is van die demone, het egter gepleit om by Hom te kan bly, maar Yeshua het hom laat gaan en gesê:

39. “Gaan terug na jou huis toe en vertel al die groot dinge wat God vir jou gedoen het.” Hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Yeshua vir hom gedoen het.

40. Toe Yeshua terugkom, het ’n groot skare mense Hom ontvang, want hulle het na Hom gesoek.

41. ’n Man met die naam van Ya’ir, hoof van die bymekaarkomplek, het voor die voete van Yeshua neergeval en Hom versoek om na sy huis toe te kom,

42. want sy enigste dogter, van ongeveer twaalf jaar oud, het op sterwe gelê. Terwyl Yeshua saam met hom gegaan het, het ’n groot skare mense om Hom aangedruk

43. en ’n sekere vrou, wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en alles wat sy het aan dokters uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,

44. het van agter af gekom en die bloulyn-soomtossel aan Sy kleed aangeraak en onmiddellik het haar vloei van bloed gestop.

45. Yeshua sê: “Wie het aan My geraak?” Toe almal dit ontken, sê Shim’on Kefa en die wat saam met hom was: “Ons Meester, die mense druk teen U aan en U sê: ‘Wie is dit wat aan My geraak het?’”

46. Hy sê: “Iemand het aan My geraak, want Ek weet dat krag vanaf My uitgegaan het.”

47. Toe die vrou sien dat dit nie Sy aandag ontsnap het nie, kom sy bang en val aanbiddend voor Hom neer en maak bekend voor al die mense waarom sy aan Hom geraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

48. Yeshua sê vir haar: “Wees bemoedig, My dogter, jou vertroue het vir jou lewe gegee. Gaan in vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed.”

49. Terwyl Hy nog praat, kom daar ’n man van die huis van die hoof van die bymekaarkomplek af en sê vir hom: “U dogter is dood, moenie die Leermeester pla nie.”

Lees volledige hoofstuk Luka 8