Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 13:2-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. en Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dink julle dat hierdie manne van die Galil groter sondaars was as almal van die Galil omdat dit met hulle gebeur het?

3. Nee, Ek sê vir julle; inteendeel, as julle nie berou toon en omdraai nie, sal julle almal net so vernietig word.

4. Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Shiloag op hulle geval het; dink julle dat hulle meer sondig was as al die mense wat in Yerushalayim bly?

5. Nee, Ek sê vir julle; inteendeel, as julle nie berou toon en omdraai nie, sal julle almal net so doodgaan.”

6. Hy het hierdie vergelykende storie vertel: “’n Sekere man het ’n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie.

7. Hy sê vir die wat die wingerd snoei: ‘Let op, vir drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Hoekom moet hy nog die grond onvrugbaar maak?’

8. ’n Snoeier sê egter vir hom: ‘Meester, laat hom nog een jaar staan terwyl ek hom snoei en kompos gooi

9. en miskien sal hy vrugte dra, anders kan u hom volgende jaar uitkap’.”

10. Terwyl Yeshua op die Shabbat in een van die bymekaarkomplekke geleer het,

11. was daar ’n vrou wat agttien jaar lank ’n gees van siekte gehad het. Sy was inmekaargebuig en dit was vir haar onmoontlik om regop te kom.

12. Yeshua het haar gesien, haar geroep en vir haar gesê: “Vrou, jy is van jou stryd bevry.”

13. Hy het Sy hande op haar gelê en onmiddellik het sy regop gestaan en eer aan God gebring,

14. maar die hoof van die bymekaarkomplek, verontwaardig omdat Yeshua op die Shabbat gesond gemaak het, antwoord en sê vir die mense: “Daar is ses dae waarop ’n mens kan werk; kom dan op dié dae om gesond gemaak te word en nie op die Shabbat nie.”

15. Daarop antwoord Yeshua hom en sê: “Jou toneelspeler van ’n vals karakter, maak almal van julle nie op die Shabbat sy os of donkie van die krip af los en lei hom weg om te laat drink nie?

Lees volledige hoofstuk Luka 13