Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:7-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Toe hy dit sê, het daar ’n stryery ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs en die mense het verdeeld geraak,

8. want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie en ook geen engel of gees nie, maar die Fariseërs bely dit alles.

9. Daar was ’n groot geraas en die leraars van die wet, van die party van die Fariseërs, het opgestaan en met hulle geargumenteer en gesê: “Ons vind geen boosheid in hierdie man nie en as ’n gees of ’n engel met hom gepraat het, wat daarvan?”

10. Toe daar ’n groot stryery ontstaan het en die bevelvoerder oor ’n duisend bang was dat Sha’ul deur hulle verskeur sou word, het hy die Romeinse soldate beveel om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp in te bring.

11. Toe dit nag was, het ons Meester by Sha’ul gestaan en gesê: “Wees sterk, want net soos jy aangaande My in Yerushalayim getuig het, net so moet jy ook in Rome getuig.”

12. Met dagbreek het sommige van die Jode bymekaargekom en hulleself met ’n eed verbind deur te sê dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle Sha’ul doodgemaak het nie.

13. Daar was meer as veertig wat hierdie verbond met ’n eed gesweer het.

14. Hulle het na die priesters en die oudstes toe gegaan en gesê: “Ons het ons met ’n eed tot vervloeking verbind om niks te eet totdat ons Sha’ul doodgemaak het nie.

15. Vra nou, saam met die leiers van die Raad, aan die bevelvoerder oor ’n duisend om hom môre af te bring na u toe, asof u sy optrede noukeuriger wil ondersoek en ons is gereed om hom dood te maak voordat hy by u kom.”

16. Die seun van Sha’ul se suster het van die hinderlaag gehoor en het in die kamp ingegaan en dit aan Sha’ul vertel.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23