Ou Testament

Nuwe Testament

Sefanja 2:3-9 Die Boodskap (DB)

3. Daar is van julle wat nederige mense is en graag doen wat reg is. Die beste ding wat julle kan doen, is om uit te vind wat die Here wil hê julle moet doen. As julle probeer om regverdig op te tree en nederig te bly, sal die Here julle miskien teen sy woede beskerm wanneer die tyd aanbreek dat Hy mense gaan straf.

4. Die Filistynse stede Gasa, Askelon, Asdod en Ekron sal verwoes word en die inwoners uitgejaag word.

5. Slegte dinge lê voor vir die Filistyne wat langs die see in die land Kanaän bly. Die Here het nie goeie dinge oor hulle te sê nie. Hy sê Hy gaan hierdie deel van die land waar die Filistyne bly, vernietig sodat dit onmoontlik vir mense sal wees om daar te bly.

6. Die gedeelte langs die see sal ’n weiplek vir vee wees met hutte vir die veewagters om in te bly en krale vir die vee.

7. Nadat die Here sy straf uitgedeel het, sal hierdie kusgedeelte die eiendom word van die mense van Juda wat sal oorbly. Hulle sal in die vlaktes langs die see bly en in die aand in die leë huise in Askelon slaap. Dit sal gebeur omdat die Here wat hulle God is vir hulle omgee en wil hê dat hulle in goeie omstandighede moet lewe.

8. Die Here sê dat Hy gehoor het hoe die mense van Moab en Ammon, Israel se bure, hulle slegsê en met hulle spot. En dan praat hulle ook nog groot oor hoe hulle Israel se grond gaan afvat.

9. Die Here is Israel se God en alles in die wêreld behoort aan Hom. Hy sê, so waar as wat Hy leef, Hy sal Moab en Ammon verwoes soos Hy met Sodom en Gomorra gemaak het. Oral in hierdie gebied sal daar brandnetels en brak kolle wees, ’n woeste en verlate plek waar mense nooit weer sal kan bly nie. Die mense van Juda wat die straf van die Here sal oorleef, sal hierdie volke beroof en hulle grondgebied oorvat.

Lees volledige hoofstuk Sefanja 2