Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 8:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Sagaria gesê om weer met sy volk te praat.

2. Hy het gesê: Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Jerusalem lê My baie na aan die hart. My liefde vir die plek is so groot dat Ek woedend word as iemand enigiets verkeerds teen die stad doen.

3. Ek sal na Jerusalem toe terugkom en weer in die stad kom bly. Mense sal Jerusalem as die Stad van Waarheid ken. Die berg waarop die tempel van die Here staan, sal ’n spesiale plek wees om die Here op te aanbid.

4. Verder het die Here ook gesê: Ou mense met baie kennis van die lewe, mans en vroue, sal ook weer in die strate van Jerusalem met hulle kieries loop.

5. Daar sal ook baie seuns en meisies wees wat in die strate speel.”

6. Die Here sê: “’n Groepie van Juda se mense het oorgebly nadat hulle ’n klompie jare terug na Babel toe weggevat is. Miskien is dit nou vir hierdie mense moeilik om te glo dat die dinge gaan gebeur wat Ek gesê het Ek gaan doen. Sê My, dink julle dit is vir My onmoontlik om hierdie dinge te doen net omdat hulle dink Ek kan nie? Ek is tog die Here wat sterker as alles en almal is!

7. Luister ’n bietjie na wat die Here sê: Ek gaan my mense red uit die lande in die ooste en die weste.

8. Ek sal hulle na Jerusalem toe terugbring sodat hulle weer daar kan bly. Soos vroeër sal hulle my volk wees en Ek hulle God. Ek sal lojaal aan hulle wees en regverdig.”

9. Die Here sê ook: “Skep moed, spring aan die werk en bou die tempel klaar! Die beloftes wat julle nou hoor, is lank gelede alreeds deur die profete gemaak toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 8