Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 1:1-2-16 Die Boodskap (DB)

1-2. Baie lank terug, in die tyd van die rigters voor Israel nog ’n koning gehad het, was daar hongersnood in die land. In dié tyd was daar ’n man met die naam Elimeleg. Hy het uit die gebied Efrata in die omgewing van Betlehem in Juda gekom. Hy het sy vrou, Naomi, en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, gevat en ’n tyd lank in die land Moab gaan bly. Terwyl hulle daar gebly het,

3. is Elimeleg dood. Naomi en haar twee seuns het toe alleen in die vreemde land agtergebly.

4. Die twee seuns het met twee Moabitiese meisies, Orpa en Rut, getrou. Omtrent tien jaar later

5. is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi was toe sonder enige familie van haar eie in die land Moab.

6. ’n Rukkie later het Naomi, wat nog steeds in Moab gebly het, gehoor dat die Here dit weer beter laat gaan het in Juda en dat daar weer genoeg kos was. Sy en haar skoondogters besluit toe om terug te gaan na haar eie land.

7. Op pad terug Juda toe

8. sê Naomi vir haar skoondogters: “Gaan liewer terug na julle eie ouerhuise toe. Mag die Here julle met sy liefde versorg omdat julle so goed was vir my en julle mans.

9. Ek bid dat die Here vir julle elkeen weer ’n goeie huweliksmaat sal gee.” Toe sy hulle groet, het hulle begin huil

10. en vir haar gesê: “Nee, ons gaan saam met Ma terug na Ma se mense toe.”

11. Toe vra Naomi vir hulle: “Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek het tog nie nog seuns met wie julle kan trou nie!

12. Gaan eerder huis toe, ek is te oud om weer te trou. In elk geval, wat sou dit julle help? Al trou ek vandag en bring weer seuns in die wêreld, wat dan?

13. Gaan julle wag tot hulle oud genoeg is om mee te trou? Gaan julle die kans om weer ’n goeie man te kry by julle laat verbygaan? Nee, my dogters, dis nie nodig nie. Dis erg genoeg dat ek voel die Here het die rug vir my gedraai. Moenie dit vir my en vir julleself nog swaarder maak nie.”

14. Die twee skoondogters was baie hartseer hieroor. Orpa het toe haar skoonma gegroet en teruggegaan huis toe. Rut het egter haar skoonma styf vasgedruk en geweier om om te draai.

15. Naomi het haar weer probeer oorreed om terug te gaan en vir haar gesê: “Jou skoonsuster is terug na haar eie mense toe waar sy weer haar eie geloof kan uitleef. Doen jy dit ook nou.”

16. Dit is toe dat Rut vir haar sê: “Moenie my vra om om te draai en Ma alleen te los nie, ek sal dit nie doen nie. Ek gaan saam met Ma, waar Ma ook al heen gaan. Daar waar Ma besluit om te bly, sal ek saam met Ma bly. Ma se mense aanvaar ek as my eie mense, en die God wat Ma dien, is ook die God wat ek wil dien.

Lees volledige hoofstuk Rut 1