Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:26-36 Die Boodskap (DB)

26. In daardie tyd het Ebed se seun Gaäl en sy broers Sigem toe getrek. Na ’n ruk het hulle die mense van Sigem se vertroue gewen.

27. Tydens een van die oesfeeste tot eer van hulle gode het hulle wyn gemaak. Hulle het in die tempel van daardie god feesgevier. Nadat almal goed geëet en gedrink het, het hulle Abimelek begin afkraak.

28. Ebed se seun Gaäl het spottend gevra: “Watter soort mense is ons hier in Sigem dat ons Abimelek dien? Wie is hy in elk geval? Hy is net Gideon se seun met Sebul as sy goewerneur. Maar moet hulle nie eerder die mense van Gamor, Sigem se voorvader, se slawe wees nie? Waarom moet ons vir Abimelek dien?

29. As ek in beheer was, sou ek van Abimelek ontslae geraak het. Ek sou hom uitgedaag en vir hom gesê het: Bring jou sterk leër en kom veg teen my!”

30. Toe Sebul, die burgemeester, hoor wat Gaäl te sê gehad het, was hy woedend.

31. Hy het stilletjies ’n boodskap na Abimelek gestuur en vir hom gesê: “Ebed se seun Gaäl en sy mense het in Sigem kom bly en hulle is besig om die stad en sy mense teen jou op te sweep.

32. Bring jou soldate en kom kruip vannag in die veld buite Sigem weg.

33. Môreoggend teen skemer moet julle die stad skielik aanval. As Gaäl en sy soldate teen jou probeer veg, moet jy hulle doodmaak.”

34. Abimelek en sy soldate het toe in die nag in vier groepe verdeel en ’n hinderlaag teen Sigem opgestel.

35. Toe Abimelek en sy soldate vir Gaäl by die stadshekke sien staan, het hulle uit hulle skuilplek gekom.

36. Gaäl het hulle gesien en vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense van die berge af!” Maar Sebul het vir hom gesê: “Dis nie mense nie, dis sommer net die berg se skaduwee wat jy vir mense aansien!”

Lees volledige hoofstuk Rigters 9