Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:20-28 Die Boodskap (DB)

20. Toe hy daar kom, sê die Engel van God vir hom: “Sit die vleis en die brood op die rots neer en gooi die sous daaroor uit.” Gideon het dit gedoen.

21. Die Engel van die Here raak toe met die punt van die stok wat Hy in sy hand gehad het aan die vleis en die brood. Skielik kom daar ’n vlam uit die rots uit wat die vleis en die brood heeltemal verbrand. Toe Gideon weer kyk, was die Engel van die Here weg.

22. Toe Gideon agterkom dat hy die Engel van die Here gesien het, het hy baie benoud gesê: “O, Here my God, ek het die Engel van die Here met my eie oë gesien. Nou is ek in groot moeilikheid!”

23. Toe sê die Here vir Gideon: “Toemaar, moenie bang wees nie, jy sal niks oorkom nie.”

24. Gideon het daar op die plek vir die Here ’n altaar gebou. Hy het dit genoem: “Die Here gee vrede.” Die altaar staan nou nog daar in Ofra in die gebied van die Abiësriete.

25. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat jou pa se bul in die kraal, die een wat sewe jaar oud is. Breek dan die altaar af wat hy vir Baäl gebou het en kap die paal wat hy vir die godin Asjera opgerig het, wat langs die altaar staan, ook af.

26. Bou dan ’n behoorlike altaar vir die Here jou God op hierdie heuwel. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het om vuur te maak en offer die bul as ’n brandoffer aan My.”

27. Gideon het tien van die mense wat vir hom gewerk het, gevat en gedoen wat die Here gesê het. Omdat hy bang was vir die reaksie van sy eie familie en van die mense van die dorp, het hy dit in die donker gedoen.

28. Toe die dorpsmense die volgende oggend wakker word, het hulle agtergekom dat die Baälaltaar en die Asjerapaal wat langsaan gestaan het, afgebreek is. In die plek daarvan was daar ’n splinternuwe altaar met die oorblyfsels van ’n brandoffer daarop.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6