Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle sewe jaar lank in die mag van die Midianiete oorgegee.

2. Die Midianiete het die Israeliete so wreed behandel dat hulle na die berge toe gevlug het waar hulle in grotte en ander moeilik bereikbare plekke gaan bly het.

3. Elke keer as die Israeliete hulle oeste geplant het, het die Midianiete en die Amalekiete en van die ander mense uit die ooste hulle land binnegeval.

4. Dan het hulle kamp opgeslaan en al die oeste verwoes tot so ver as by Gasa. Hulle het die Israeliete agterlaat met niks om te eet nie, want hulle het ook die skape, beeste en donkies saam met hulle gevat.

5. Die soldate van Midian het met al hulle vee en tente gekom. Dit het soos ’n swerm sprinkane gelyk, so baie was hulle. Dit was onmoontlik om hulle en hulle kamele te probeer tel. Hulle het in die land gebly totdat hulle dit kaal gestroop het.

6. Hulle het die Israeliete heeltemal laat verarm. Toe het die Israeliete by die Here hulp gaan soek.

7. Toe hulle by die Here hulp teen die Midianiete soek,

8. het Hy vir hulle ’n profeet gestuur wat vir hulle gesê het: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte gered waar julle slawe was.

9. Ek het julle uit die mag van die Egiptenaars verlos en julle vrygemaak van al die volke wat julle in hierdie land verdruk het. Ek het hulle voor julle uit weggejaag en hulle land vir julle gegee.

10. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag glad nie die gode van die Amoriete in wie se land julle bly, aanbid nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 6