Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Toe die Israeliete by die Here hulp gaan soek het, het Hy iemand gestuur om hulle te help. Dit was Otniël. Hy was Kaleb se jonger broer Kenas se seun.

10. Die Gees van die Here het van hom besit geneem en hy het Israel se leier geword. Hy het teen koning Kusan-Risatajim van Mesopotamië oorlog gemaak en hom met die hulp van die Here verslaan.

11. Daarna was daar 40 jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël seun van Kenas dood.

12. Die Israeliete het later weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Toe het die Here hulle in koning Eglon van Moab se mag oorgegee.

13. Eglon het kragte saamgesnoer met die Ammoniete en die Amalekiete en saam het hulle Israel verslaan en Jerigo ingeneem.

14. Die Israeliete was toe agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab.

15. Toe die Israeliete by die Here hulp gaan soek het, het Hy iemand gestuur om hulle te help. Dit was Ehud seun van Gera uit die stam van Benjamin. Ehud was linkshandig. Die Israeliete het hom met die belastinggeld na koning Eglon van Moab toe gestuur.

16. Ehud het vir hom ’n swaard van 50 sentimeter lank gemaak en al twee kante van die swaard vlymskerp gemaak. Hy het die swaard aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak.

17. Toe het hy die belastinggeld vir koning Eglon, wat ’n baie vet man was, gevat.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3