Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:20-29 Die Boodskap (DB)

20. Ehud het toe nader aan die koning gestap waar hy alleen in sy koel bovertrek gesit het, en vir hom gesê: “Ek het ’n boodskap van God af vir u.” Die koning het dadelik van sy troon af opgestaan

21. en Ehud het met sy linkerhand die swaard, wat hy aan sy regterkant onder sy klere weggesteek het, uitgetrek en Eglon in sy maag gesteek.

22. Die hele swaard, hef en al, het in die koning se maag ingegaan sodat die vet daaroor gepeul het. Die swaard het vasgesit en Ehud het dit net so in die koning gelos.

23. Hy het die deure van die bovertrek toegemaak en gesluit. Daarna is hy met ’n ander uitgang daar uit.

24. Na ’n ruk het Eglon se amptenare teruggekom. Toe hulle voel die deure is gesluit, het hulle gedink die koning is in die badkamer.

25. Hulle het geduldig gewag, maar toe die koning te lank na hulle sin vat, het hulle bekommerd geraak, ’n sleutel gaan haal en die deur oopgesluit, net om die koning dood op die vloer aan te tref.

26. Intussen het Ehud ontsnap. Hy is verby die klipbeelde op pad Seïra toe.

27. Met sy aankoms in die bergagtige gebied van Efraim het hy die trompet laat blaas om die soldate bymekaar te maak vir oorlog. Die Israeliete het na hom toe gekom, en hy was hulle leier.

28. “Kom saam met my,” het hy vir hulle gesê, “want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.” Hulle is toe saam met Ehud daar weg. Hulle het al die vlak dele van die Jordaanrivier toegemaak sodat niemand van Moab af daar kon deurkom nie.

29. Hulle het toe die Moabiete aangeval en omtrent 10 000 van hulle beste troepe doodgemaak. Hulle het niemand laat wegkom nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3