Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 2:7-17 Die Boodskap (DB)

7. Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle nog voor die Here gebuig solank die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het, geleef het.

8. Nie lank hierna nie is Josua die seun van Nun, die dienaar van die Here, in die ouderdom van 110 jaar dood.

9. Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim regoor die Gaäsberge begrawe.

10. Die leiers wat vir Josua oorleef het, is later almal dood. Na hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook nie geweet van al die wonderlike dinge wat Hy vir Israel gedoen het nie.

11. Toe het die Israeliete sonde gedoen: hulle het die Baäls, die gode van ander volke, begin dien.

12. Hulle het opgehou om die Here, die God van hulle voorvaders wat hulle uit Egipte gered het, te dien. Hulle het heeltyd agter ander gode aangeloop. Dit het die Here baie kwaad gemaak.

13. Hulle het die rug vir die Here gedraai en die Baäls en die beelde van Astarte begin dien.

14. Die Here was so kwaad dat Hy rowers toegelaat het om Israel se gebiede te plunder en te beroof. Hy het hulle aan hulleself oorgelaat en hulle nie langer teen hulle vyande beskerm nie. Israel was nou magteloos.

15. Dit het nie saak gemaak teen watter vyand hulle geveg het nie. Die Here het gesorg dat hulle verloor, soos Hy belowe het. Hulle was later heeltemal moedeloos en in groot nood.

16. Toe het die Here leiers gestuur om die Israeliete van hulle vyande te verlos.

17. Maar hulle het nie na hierdie leiers geluister nie. Hulle was ongehoorsaam aan die Here en het ander gode aanbid. Hulle voorouers het na die Here geluister en Hom getrou gedien, maar hierdie nuwe geslag Israeliete het baie vinnig hulle rug vir Hom gedraai.

Lees volledige hoofstuk Rigters 2