hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 2 Die Boodskap (DB)

Die Engel van die Here by Bokim

1. Die Engel van die Here is van Gilgal af na Bokim toe om ’n boodskap vir die Israeliete te gee. Hy het vir hulle gesê: “Ek het julle uit Egipte uit laat trek na hierdie land toe soos Ek julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my ooreenkoms met julle breek nie,

2. maar julle mag ook nie ’n kontrak met die inwoners van hierdie land sluit nie. Julle moet ook die altare vir hulle gode afbreek.’ Maar julle was ongehoorsaam! Hoekom?

3. Omdat julle nie na My geluister het nie, gaan Ek nie meer hierdie mense voor julle uit laat vlug nie. Hulle sal vir julle ’n doring in die vlees wees en hulle afgode sal julle gedurig verlei.”

4. Toe die Engel van die Here klaar gepraat het, het die Israeliete almal hardop begin huil.

5. Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Daar het hulle ook offers vir die Here gebring.

Josua se dood

6. Josua het die volk gestuur om die land te gaan inneem. Elke stam het in die gebied gaan bly wat aan hulle toegeken is.

7. Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle nog voor die Here gebuig solank die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het, geleef het.

8. Nie lank hierna nie is Josua die seun van Nun, die dienaar van die Here, in die ouderdom van 110 jaar dood.

9. Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim regoor die Gaäsberge begrawe.

10. Die leiers wat vir Josua oorleef het, is later almal dood. Na hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook nie geweet van al die wonderlike dinge wat Hy vir Israel gedoen het nie.

Die gevolge van Israel se

11. Toe het die Israeliete sonde gedoen: hulle het die Baäls, die gode van ander volke, begin dien.

12. Hulle het opgehou om die Here, die God van hulle voorvaders wat hulle uit Egipte gered het, te dien. Hulle het heeltyd agter ander gode aangeloop. Dit het die Here baie kwaad gemaak.

13. Hulle het die rug vir die Here gedraai en die Baäls en die beelde van Astarte begin dien.

14. Die Here was so kwaad dat Hy rowers toegelaat het om Israel se gebiede te plunder en te beroof. Hy het hulle aan hulleself oorgelaat en hulle nie langer teen hulle vyande beskerm nie. Israel was nou magteloos.

15. Dit het nie saak gemaak teen watter vyand hulle geveg het nie. Die Here het gesorg dat hulle verloor, soos Hy belowe het. Hulle was later heeltemal moedeloos en in groot nood.

Die Here help weer sy volk

16. Toe het die Here leiers gestuur om die Israeliete van hulle vyande te verlos.

17. Maar hulle het nie na hierdie leiers geluister nie. Hulle was ongehoorsaam aan die Here en het ander gode aanbid. Hulle voorouers het na die Here geluister en Hom getrou gedien, maar hierdie nuwe geslag Israeliete het baie vinnig hulle rug vir Hom gedraai.

18. Wanneer die Here vir hulle ’n nuwe leier gegee het, het Hy die leier gehelp om die volk teen hulle vyande te beskerm vir so lank as wat hierdie leier geleef het. Want die Here het sy volk jammer gekry as Hy hoor hoe hulle kla omdat hulle swaarkry onder hulle vyande.

19. Maar ná so ’n leier se dood het die volk teruggeval in hulle ou gewoontes. Hulle het eintlik nog erger as die vorige geslag aangegaan. Hulle het agter ander gode aangehardloop en hulle aanbid. Hulle het hardkoppig geweier om op te hou met hulle sondige manier van leef.

20. Toe het die Here baie kwaad geword vir Israel en gesê: “Omdat hierdie volk hulle nie aan my ooreenkoms wat Ek met hulle voorouers gemaak het, steur nie en nie na My luister nie,

21. sal Ek nie een van die nasies wat na Josua se dood nog in die land oorgebly het ver uit die land verdryf nie.

22. Inteendeel, Ek gaan hulle gebruik om Israel te toets. Ek wil kyk of hulle ook so gehoorsaam aan My sal wees soos hulle voorouers.”

23. Daarom het die Here hierdie nasies met rus gelaat en hulle nie dadelik uit die land verdryf nie. Hy het hulle nie aan Josua oorgelewer nie.