Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16:15-30 Die Boodskap (DB)

15. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg.”

16. Sy het dae lank aangehou neul en kerm totdat hy dit later nie meer kon uithou nie.

17. Hy het toe vir haar die waarheid vertel: “Van my geboorte af is my hare nog nooit gesny nie omdat ek aan God toegewy is. As my hare afgesny word, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.”

18. Delila het besef dat hy dié keer die waarheid gepraat het; daarom het sy hierdie boodskap vir die leiers van die Filistyne gestuur: “Kom nog een keer terug. Hierdie keer het hy my die waarheid vertel!” Hulle het toe teruggekom en die geld saam met hulle gebring.

19. Sy het Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Toe roep sy ’n man om sy sewe haarlokke te kom afsny. Sy krag het hom onmiddellik begin verlaat.

20. Sy skree toe weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Toe hy wakker skrik, het hy gedink: “Ek sal my net weer soos die vorige kere losruk.” Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.

21. Die Filistyne het hom gevang en sy oë uitgesteek. Toe vat hulle hom Gasa toe waar hulle hom met ’n dubbele bronsketting geboei het. Terwyl hy in die tronk was, moes hy die meul draai wat die koring gemaal het.

22. Maar daar in die tronk het sy hare weer begin groei.

23. Die leiers van die Filistyne het ’n groot fees ter ere van hulle god Dagon gehou, waar hulle offers gebring en hom vereer het. “Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee,” het hulle gesing.

24-25. Die Filistyne was baie bly, en hulle het gesê: “Gaan haal vir Simson dat hy ons kan vermaak!” Nadat hulle hom uit die tronk gehaal het, het hulle hom tussen twee stutpilare van die tempel laat staan. Toe die mense hom so sien staan, het hulle gesing: “Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee, die vyand wat ons land verrinneweer het en so baie van ons doodgemaak het!”

26. Simson het vir die helper wat hom gelei het, gesê: “Ek wil so staan dat ek teen die stutpilare van die tempel kan leun.”

27. Die tempel was vol mense. Al die leiers van die Filistyne was daar. Daar was ook omtrent 3 000 mense op die dak van die tempel, besig om na Simson te kyk en die spot met hom te dryf.

28. Toe bid Simson: “Here my God, sien my tog raak! O God, maak my nog hierdie een keer sterk sodat ek my op hierdie Filistyne kan wreek oor my twee oë!”

29. Simson het die twee middelste stutpilare van die tempel tussen sy arms vasgevat, met al sy mag teen hulle gedruk

30. en uitgeroep: “Laat my saam met die Filistyne doodgaan!” Hy het al sy krag ingespan en die tempel het inmekaargeval op die leiers van die Filistyne en al die mense daarin. Simson het met sy dood meer mense doodgemaak as in sy hele leeftyd.

Lees volledige hoofstuk Rigters 16