Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:8-18-19 Die Boodskap (DB)

8. Juda het Jerusalem aangeval en dit verower. Hulle het al die inwoners doodgemaak en die stad aan die brand gesteek.

9. Daarna het hulle teen die Kanaäniete gaan veg wat in die suidelike gebiede, die bergagtige gebiede en die woestynagtige dele gebly het.

10. Toe het Juda teen die Kanaäniete van Hebron, wat vroeër as Kirjat-Arba bekend was, gaan veg. Hier het hulle die magte van Sesai, Agiman en Talmai verslaan.

11. Van hier af het hulle oorlog gaan maak teen die mense van die dorp Debir. Hierdie plek was vroeër bekend as Kirjat-Sefer.

12. Hier het Kaleb gesê: “Die man wat dit regkry om Kirjat-Sefer in te neem, kan met my dogter Aksa trou.”

13. Otniël, hy was Kaleb se jonger broer Kenas se seun, het dit reggekry; daarom het Kaleb hom met sy dogter Aksa laat trou.

14. Na die troue het hy haar omgepraat om vir haar pa nog landbougrond te vra. Toe sy haar ouers gaan groet en van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen, wat wil jy hê?”

15. Sy sê toe vir hom: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook vir my ’n paar goeie waterbronne as huweliksgeskenk gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee.

16. Toe Juda uit Jerigo wegtrek, het die Keniete (hulle was familie van Moses se skoonpa) saamgetrek tot in die Judese woestyn en by die mense van Arad gaan woon.

17. Juda en Simeon het weer saamgespan en die Kanaäniete in Sefat verslaan. Hulle het die stad heeltemal verwoes; daarom word dit Gorma, of verwoeste stad, genoem.

18-19. Die Here het Juda gehelp en hulle het die berggebiede ingeneem asook die vlaktestede Gasa, Askelon en Ekron met hulle omliggende gebiede. Juda kon egter nie die mense op die vlakte verdryf nie omdat hulle ysterstrydwaens gehad het, en daarom kon Juda hulle nie wen nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1