Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:12-23 Die Boodskap (DB)

12. Hier het Kaleb gesê: “Die man wat dit regkry om Kirjat-Sefer in te neem, kan met my dogter Aksa trou.”

13. Otniël, hy was Kaleb se jonger broer Kenas se seun, het dit reggekry; daarom het Kaleb hom met sy dogter Aksa laat trou.

14. Na die troue het hy haar omgepraat om vir haar pa nog landbougrond te vra. Toe sy haar ouers gaan groet en van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen, wat wil jy hê?”

15. Sy sê toe vir hom: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook vir my ’n paar goeie waterbronne as huweliksgeskenk gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee.

16. Toe Juda uit Jerigo wegtrek, het die Keniete (hulle was familie van Moses se skoonpa) saamgetrek tot in die Judese woestyn en by die mense van Arad gaan woon.

17. Juda en Simeon het weer saamgespan en die Kanaäniete in Sefat verslaan. Hulle het die stad heeltemal verwoes; daarom word dit Gorma, of verwoeste stad, genoem.

18-19. Die Here het Juda gehelp en hulle het die berggebiede ingeneem asook die vlaktestede Gasa, Askelon en Ekron met hulle omliggende gebiede. Juda kon egter nie die mense op die vlakte verdryf nie omdat hulle ysterstrydwaens gehad het, en daarom kon Juda hulle nie wen nie.

20. Soos Moses vroeër beveel het, het Kaleb die dorp Hebron gekry. Hy het die mense verdryf wat daar gebly het. Hulle was die nakomelinge van die drie seuns van Enak.

21. Die Benjaminiete kon nie daarin slaag om die Jebusiete, wat in Jerusalem gebly het, te verslaan nie. So het dit gekom dat die Jebusiete van toe af saam met hulle in Jerusalem bly woon het.

22. Die Here het die afstammelinge van Josef gehelp toe hulle Bet-El aangeval het.

23. Hulle het verkenners Bet-El toe gestuur. Vroeër was Bet-El ook bekend as Lus.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1