Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 5:5-23 Die Boodskap (DB)

5. Die Here het toe vir Moses gesê:

6. “Wanneer ’n man of ’n vrou enige sonde doen waarmee hulle ontrou aan die Here is,

7. moet die skuldige persoon sy skuld bely. Verder moet die volle bedrag vir die skade wat die onskuldige gely het, plus ’n verdere twintig persent as skadevergoeding aan daardie persoon terugbetaal word.

8. As die persoon wat skade gely het, reeds dood is en nie ander familie het aan wie die skuld betaal kan word nie, behoort die geld aan die Here. Hierdie bedrag moet saam met die ram, wat geoffer moet word as bewys dat die skuldige jammer is oor sy sondes, aan die priester gegee word.

9. “Al die offers wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens aan die Here, behoort aan die priester. Dit dien as sy inkomste waarvan hy moet leef.

10. Nadat die Here se deel deur die mense wat kom offer aan Hom gegee is, behoort die res aan die priester.”

11. Toe sê die Here vir Moses:

12-15. “As ’n man agterdogtig raak en dink sy vrou het ’n verhouding met ’n ander man, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou by iemand anders geslaap het sonder dat haar man daarvan weet of sonder dat iemand dit uitgevind het. Dit kan ook wees dat, al was sy ontrou, daar geen getuie was wat haar betrap het nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou van sulke slegte dinge verdink sonder dat sy iets verkeerds gedoen het. In al hierdie gevalle moet die man sy vrou na die priester toe bring. Hy moet ook ’n offer bring van een en ’n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, want so ’n offer waar ’n man sy vrou nie vertrou nie, is ’n offer wat die waarheid aan die lig moet bring.

16. “Die priester moet die vrou dan voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here laat staan.

17. Die priester moet dan ’n bak vat, dit volmaak met water wat vir sy diens opsy gesit is en dit met stof van die tabernakel se vloer meng.

18. Dan moet hy die vrou se hare losmaak waar hulle voor die Here staan. Sy moet dan die offer vashou, sodat hulle kan sien of haar man reg was of nie. Die priester moet voor haar staan. Hy moet die bak met die water vashou wat moet wys of sy skuldig is en ’n groot straf oor haar kan bring.

19. Dan moet hy die vrou vra om plegtig te beloof dat sy die waarheid praat. Hy moet dan vir haar sê: As ’n ander man nie by jou geslaap het nie en jy wat ’n getroude vrou is, nie ontrou aan jou man was nie, mag jou onskuld dan sigbaar word deur hierdie bitter water wat ’n groot straf oor jou kan bring as jy jok.

20. Maar as jy die spoor byster geraak het en met ’n ander man seks gehad het,

21-22. mag die Here dan maak dat jou eie mense jou sal haat en verwerp. Mag jy dan nooit weer kinders hê nie sodat almal kan sien dat die Here se straf op jou rus. As jy skuldig is, mag hierdie water jou vir altyd onvrugbaar maak wanneer jy dit drink.“Hierop moet die vrou die priester dan antwoord: Dit is goed so. Laat dit alles presies net so gebeur.”

23. “Die priester moet hierdie vloeke op ’n stukkie leer neerskryf en dit in die bak met die bitter water afwas.

Lees volledige hoofstuk Numeri 5