Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 35:18-29 Die Boodskap (DB)

18. En as iemand ’n ander persoon met ’n gevaarlike stuk hout bydam en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry.

19. In al hierdie gevalle het die naaste familielid van die vermoorde persoon die verantwoordelikheid om die moordenaar aan die pen te laat ry vir die moord.

20. Ook in die geval waar iemand ’n ander mens haat en hy die persoon hard omstamp of hom doelbewus met iets gooi,

21. of hom met die vuis slaan sodat hy doodgaan, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry. ’n Familielid van die vermoorde het die verantwoordelikheid om die moordenaar te soek en aan die pen te laat ry vir die moord.”

22. “Sê nou dit gebeur dat iemand per ongeluk en sonder dat hy ooit kwaad was, iemand hard omstamp of per ongeluk raak gooi,

23. of sonder dat hy dit gesien het, hom met ’n klip raak gooi sonder enige bybedoelings en die persoon gaan as gevolg hiervan dood,

24. dan moet die leiers die saak ondersoek. Hulle moet besluit wat hulle gaan doen met die saak tussen die beskuldigde en die familielid van die persoon wat dood is. Die volgende riglyne moet gevolg word:

25. As die vergadering besluit dat die persoon per ongeluk doodgemaak is en dat dit nie ’n beplande moord was nie, moet hulle hulle uitspraak in die guns van die beskuldigde gee. Om hom te beskerm teen die wraak van die familielid van die dooie, moet hulle hom laat teruggaan na die toevlugstad waarheen hy gevlug het. Hy moet in dié stad bly tot die dood van die hoëpriester.

26. Maar as hy die toevlugstad voor die tyd verlaat,

27. en die familielid van die dooie loop hom raak en maak hom dood, is dit nie moord nie.

28. Want iemand wat na ’n toevlugstad toe gevlug het, moet daar bly tot die dood van die hoëpriester. Eers daarna is dit veilig om uit te kom en terug te gaan huis toe.

29. Hierdie reëls geld vir julle en julle nageslag, maak nie saak waar julle bly nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 35