Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 20:11-23 Die Boodskap (DB)

11. Toe lig Moses sy arm op en slaan die rots twee keer met die kierie. Skielik het daar ’n groot stroom water uit die rots uitgestroom. Almal, mens en dier, het genoeg gehad om te drink.

12. Maar die Here het met Moses en Aäron geraas: “Omdat julle nie op My vertrou het nie en nie na My, die groot en heilige God, voor die volk geluister het nie, sal julle nie hierdie volk in die nuwe land inlei wat Ek vir hulle gee nie.”

13. Die mense het toe die plek die waters van Meriba, “waters waar daar rusie gemaak word”, genoem omdat die Israeliete daar opstandig was teen die Here, en omdat Hy daar vir hulle gewys het hoe groot en heilig Hy is.

14. Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur om met hom te onderhandel. Hulle moes vir hom sê: “Hierdie boodskap is van u eie familie, die Israeliete af: U weet self hoe swaar ons al gehad het.

15. Ons voorouers het mos na Egipte toe gegaan en baie lank daar gebly. Maar die Egiptenaars het ons en ons voorouers baie sleg behandel.

16. Toe het ons by die Here hulp gaan soek, en Hy het ons gebede beantwoord en ’n engel gestuur om ons uit Egipte weg te lei. Op die oomblik is ons in Kades, ’n stad op die grens van u grondgebied.

17. Ons vra toestemming om deur u land te trek. Ons sal nie deur u landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.”

18. Die koning van Edom se antwoord was kort en kragtig: “Bly uit my land uit of maak julle reg vir oorlog!”

19. Die Israeliete het toe weer mooi gevra: “Ons belowe om net op die grootpad te bly, en as ons of ons vee van die water in julle putte drink, sal ons daarvoor betaal. Ons is nie julle vyande nie, ons wil net die pad deur u land gebruik.”

20. Maar die koning van Edom het botweg geweier en sy groot leër bymekaargemaak om teen die Israeliete te gaan oorlog maak.

21. Omdat Edom geweier het om Israel deur hulle land te laat trek, moes Israel toe maar van koers verander.

22. Die Israeliete het van Kades af weggetrek en by die berg Hor op die grens van Edom aangekom.

23. Daar het die Here vir Moses en Aäron gesê:

Lees volledige hoofstuk Numeri 20