Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:40-48 Die Boodskap (DB)

40. Dit moes die Israeliete daaraan herinner dat iemand wat nie ’n afstammeling van Aäron was, nie die reg gehad het om ooit die wierookoffer na die altaar van die Here toe te bring nie. As iemand dit wel sou waag, sou dieselfde lot hom tref as wat Korag en sy volgelinge getref het.

41. Net die volgende dag het die hele volk teen Moses en Aäron in opstand gekom en vir hulle gesê: “Julle het die Here se volk uitgemoor!”

42. Terwyl die klomp mense nog besig was om met Moses en Aäron te stry, het iets hulle aandag getrek daar by die tent waar die Here aanbid word. Die wolk van die Here het oor die tent neergesak en die verblindende helder lig van die Here se teenwoordigheid het daaruit geskyn.

43. Moses en Aäron het toe by die ingang van die tent gaan staan,

44. en die Here het vir Moses gesê:

45. “Gee pad voor hierdie mense, want Ek wil hulle in ’n oogwink van die aarde af wegvee!” Moses en Aäron het op hulle knieë voor die Here neergeval.

46. Toe sê Moses vir Aäron: “Maak gou! Vat jou bak en skep van die kole van die altaar af en gooi van die wierook daarin. Hardloop dan daarmee na die volk toe en vra namens hulle dat die Here hulle sonde sal vergeef. Want die Here se woede het al klaar oor hulle losgebars. Kyk, Hy straf hulle met ’n dodelike siekte wat oral onder die mense uitbreek.”

47. Aäron het toe tussen die mense ingehardloop met sy vuurbak. Alhoewel die siekte al begin toeslaan het, het hy ter wille van hulle die wierook geoffer om by die Here vir hulle in te tree en vergifnis vir hulle sondes te bewerk.

48. Terwyl hy nog so tussen die mense, die lewendes en die dooies, staan, het die epidemie skielik opgehou.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16