Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:28-39 Die Boodskap (DB)

28. Toe sê Moses: “Julle sal nou self sien of die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en of ek dit uit my eie doen.

29. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, soos enigiemand anders, het die Here my nie gestuur nie.

30. Maar as die Here nou ’n wonderwerk doen en die aarde laat oopskeur, sodat hulle met hulle gesinne en al hulle besittings in die skeur inval en lewendig begrawe word, sal julle weet dat hierdie mense die rug vir die Here gedraai het.”

31. Moses se woorde was nog nie behoorlik koud nie,

32. toe skeur die aarde oop sodat Datan, Abiram en hulle gesinne daarin kan val. Dieselfde lot het ook vir Korag en sy ondersteuners getref.

33. Hulle is almal lewendig in die skeur begrawe. Daar het niks oorgebly wat iemand aan hulle kon herinner nie.

34. Die ander mense wat daar naby was en hulle gille gehoor het, het dadelik weggehardloop omdat hulle bang was dieselfde lot tref hulle ook.

35. Daarna het die Here die ander 250 leiers wat met hulle vuurpanne en wierook by die tent gestaan het waar Hy aanbid word, met ’n groot vuur verbrand.

36. Toe het die Here vir Moses gesê:

37. “Sê nou vir die priester Eleasar, Aäron se seun, hy moet die kopervuurbakke wat in die vuur beland het, daar gaan uithaal, want hulle behoort aan My. Die kole wat daarin is, moet hulle iewers gaan weggooi.

38. Daardie bakke behoort nou aan die Here. Al die manne aan wie dit behoort het, het sonde gedoen en met hulle lewe daarvoor geboet. Slaan dan al hierdie koperbakke plat en maak ’n deksel daarmee wat bo-oor die altaar kan pas. Elke keer as die Israeliete hierdie deksel sien, sal dit hulle aan hierdie verskriklike gebeurtenis herinner.”

39. Die priester Eleasar het toe die kopervuurbakke gevat, hulle laat platslaan en ’n deksel vir die altaar daarmee gemaak.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16