Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:1-6-7 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n dag het Korag die seun van Jishar, een van die afstammelinge van Kehat die seun van Levi, na Datan en Abiram toe gegaan en ’n plan met hulle bespreek om teen Moses se leierskap in opstand te kom. Hulle twee was die seuns van Eliab en hulle was lede van die stam van Ruben. Hulle het ook Pelet se seun On by hierdie sameswering betrek.

2. Hulle het toe met 250 ander prominente leiers van die gemeenskap kragte saamgesnoer om van Moses as leier ontslae te raak.

3. Hierdie groep het na Moses en Aäron toe gegaan en vir hulle gesê: “Julle het nou te ver gegaan! Hierdie hele volk is vir die Here kosbaar en Hy het hulle almal vir Hom uitgekies. Wie dink julle is julle om te maak asof julle belangriker is as enigiemand anders?”

4. Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë neergeval en begin bid.

5. Daarna het hy vir Korag en sy trawante gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat Hy uitgekies het om die leier van hierdie volk te wees asook die persoon wat Hy afgesonder het om namens die volk offers op die altaar te bring. Die Here sal die persone wat Hy uitgekies het, toelaat om Hom by sy altaar te ontmoet.

6-7. Korag, jy en jou trawante moet so maak: Kry vir julle elkeen ’n bak met warm kole in waarop julle wierook vir die Here kan brand. Bring dit dan môre na die altaar toe. Daar sal ons sien wie die Here kies as die persoon wat Hom verteenwoordig. Dis nie ons wat te ver gegaan het nie, maar eerder julle klomp Leviete wat julle te veel aanmatig.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 16