Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:3-8-9 Die Boodskap (DB)

3. Hulle het die plek Tabera, plek van die brand, genoem, want daar het die Here ’n reusevuur onder hulle laat brand.

4. Sommige van die mense van ander volke wat saam met die Israeliete getrek het, het so lus gekry vir vleis dat hulle net wou terugdraai Egipte toe. Dit het gemaak dat baie van die Israeliete self ook begin kla het. “As ons tog maar net ’n stukkie vleis gehad het om te eet,” het hulle gekerm.

5. “Om nie eers te praat van die vis wat ons in Egipte verniet gekry het nie! En wat van die komkommers en waatlemoene, ja, selfs preie, uie en knoffel, net soveel as wat ons wou hê.

6. Hier krepeer ons van die ellende en al wat ons het om te eet is manna, dagin en daguit!”

7. Die manna was so groot soos koljandersaad met ’n geel kleur.

8-9. Die manna het elke nag saam met dou om die kamp geval. Die volgende oggend het die mense dit oral gaan optel en dit op uitgeholde klippe met ’n ander klip fyngemaal, of in ’n bakkie met ’n ronde voorwerp fyngedruk. Hierdie fyngemaakte manna kon dan gekook word, of soos koek in panne gebak word. Die mannakoeke het net soos oliekoeke gesmaak.

Lees volledige hoofstuk Numeri 11