Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:19-29 Die Boodskap (DB)

19. Moenie dink dit sal net vir ’n dag of twee of dalk vyf of tien, ja, selfs net twintig dae wees nie.

20. Nee, julle sal ’n hele maand lank vleis eet totdat julle naar word daarvan en julle later nie meer ’n stukkie vleis in die oog sal kan kyk nie. Dit het julle nou daarvan met al julle gekla en verwyte dat julle nooit uit Egipte uit moes getrek het nie, toe julle die Here verwerp het.”

21. Moses sê toe vir die Here: “Die manne alleen is omtrent 600 000 mense en U belowe om vir almal genoeg vleis te gee vir ’n hele maand!

22. Selfs al slag ons al ons beeste en al ons skape, sal dit nooit genoeg wees nie. Ons kan al die visse in die see vang en dit sal nog steeds nie genoeg wees nie.”

23. Toe vra die Here vir Moses: “Dink jy Ek het nie die mag om dit te doen nie? Jy sal nou met jou eie oë sien of my woorde waar word of nie.”

24. Moses het toe vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het die 70 leiers uitgesoek en hulle in ’n sirkel om die tent laat staan.

25. Die Here het toe in die wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het dieselfde Gees wat Hy vir Moses gegee het om in sy Naam op te tree, ook vir die 70 leiers gegee. Toe dit gebeur, het hulle God se wil begin bekendmaak. Dit het egter net hierdie een keer gebeur.

26. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak.

27. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!”

28. “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper.

29. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!”

Lees volledige hoofstuk Numeri 11