Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 8:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Met die aanbreek van die sewende maand het die meeste Israeliete reeds oral in die stede gebly.

2. Die hele volk het op die eerste dag van die sewende maand op die plein voor die Waterhek bymekaargekom. Hulle het vir Esra, die groot kenner van die wetboek van Moses, gevra om die wetboek, waarin al die opdragte en voorskrifte van die Here vir sy volk Israel opgeteken is, saam te bring.

3. Esra, wat ook ’n priester is, het toe die wetboek gaan haal om dit vir al die mense, mans en vroue wat oud genoeg was om te verstaan, voor te lees.

4. Hy het op die plein voor die Waterhek gestaan en van dagbreek tot vroeg die middag vir hulle gelees. Die mense het aandagtig geluister na wat hy vir hulle gelees het.

5. Esra het op ’n houtverhoog gestaan wat spesiaal vir hierdie geleentheid gemaak is. Daar was ook ander mense saam met hom op die verhoog. Aan sy regterkant was dit Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja. Aan sy linkerkant was dit Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.

6. Almal kon Esra mooi sien waar hy op die verhoog voor hulle gestaan het. Toe hy die wetboek oopmaak om te begin lees, het almal uit respek vir die Here opgestaan.

7. Esra het die Here, die groot God, geprys. Al die mense het hulle hande omhoog gehou en geantwoord met: “Amen, amen.” Daarna het hulle in aanbidding laag op die grond voor die Here gekniel.

8. Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet vir die mense verduidelik terwyl hulle daar staan en luister het.

9. Hulle het God se wetboek voorgelees en die mense gehelp om die betekenis daarvan te verstaan.

10. Toe die mense besef wat die voorskrifte van die wet vir hulle beteken, het hulle begin huil. Nehemia die goewerneur, Esra die priester en kenner van die wetboek van Moses, en die Leviete wat besig was om die wet vir die mense te verduidelik het vir hulle gesê: “Moenie huil en hartseer wees nie. Hierdie dag behoort aan die Here. Op hierdie dag maak julle ’n nuwe begin voor die Here julle God. Dit is sy nuwe dag!

11. Gaan huis toe en vier fees, eet en drink van die beste wat julle het. Deel van julle kos met die mense wat self nie genoeg het nie. Vandag behoort aan die Here! Moenie terneergedruk wees nie. Dien die Here met blydskap en Hy sal julle beskerm.”

12. Ook die Leviete het die mense kalmeer met die woorde: “Stil nou, dit is ’n dag wat aan die Here behoort. Dit is nie ’n dag vir trane nie.”

13. Die mense is toe daar weg en het gaan feesvier. Hulle het hulle kos met mekaar gedeel. Almal was opgeruimd en vrolik omdat hulle God se woord gehoor en verstaan het.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 8